# Suid-Afrika het weereens goud losgeslaan op die gesogte Chelsea-blommeskou in Londen. Die bekroonde uitstalling, met die bekende tuinboukundige Leon Kluge as leier van die span, het die invloed van die Indiese en Atlantiese oseane op Suid-Afrika se flora ten toon gestel. Die land se ryk kusbiodiversiteit het as inspirasie gedien vir die uitstalling wat 25-duisend stingels plaaslik gekweekte blomme en fynbos bevat. Dit is Suid-Afrika se 39ste medalje oor vier dekades by die wêreldberoemde blommeskou.