# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens het vordering gemaak om die brand in Cogmanskloof bo Ashton en Montagu in bedwang te hou. Die brand het Donderdagmiddag in die veld bo Zolani uitgebreek en aanvanklik na Cape Nature se grondgebied op die bergspits versprei voor dit na Montagu se kant van die berg beweeg het. Die munisipaliteit se woordvoerder Jo-Anne Otto sê die brandlyn bo Montagu se hospitaal is onder beheer en opruiming is aan die gang.