Skip to content

Sowat 1 000 onwettige immigrante by Barberton-myn gearresteer

# Nagenoeg eenduisend onwettige immigrante is gister by ‘n myn in Barberton, Mpumalanga, in hegtenis geneem. Polisiewoordvoerder, Donald Mdhluli, sê ‘n aantal wetstoepassingsagentskappe het van Maandag af saamgewerk aan Operasie Vala Umgodi. Hy sê daar is toegeslaan op onwettige mynboubedrywighede en onwettige mynwerkers is na die oppervlak gedwing. Die verdagtes kan moontlik ingevolge die Immigrasiewet aangekla word asook aanklagte wat verband hou met onwettige mynbou en betreding. Nog aanklagte kan bygevoeg word soos die ondersoek voortduur.