# President Donald Trump en die presidentsvrou Melania Trump is Saterdagaand inderhaas deur geheime diensagente uit die Withuis-korrespondentevereniging se dinee geneem, nadat ‘n man met ‘n haelgeweer probeer het om die lokaal binne te kom. Die gewapende man het op ‘n lid van die geheime diens geskiet wat nie beseer is nie. Die geleentheid is deur tweeduisend-600 mense bygewoon en uiteindelik gekanselleer. Trump het op sosiale media gesê hy hoop die dinee kan binne 30 dae herskeduleer word. Saterdag was die eerste keer dat Trump die korrespondente-dinee as president bygewoon het.
CBS News berig die verdagte is vermoedelik ‘n 31-jarige man van Torrence, een van die suidwestelike voorstede van Los Angeles in Kalifornië. Hy word in ‘n nabygeleë hospitaal behandel en is in polisie-aanhouding. Tydens ‘n perskonferensie het Trump se prokureur-generaal, Todd Blanche, gesê die man sal binnekort aangekla word.