Skip to content

Oggendkoerant-veslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 November 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Stats SA het sy werkloosheidsyfers aangepas en sê nagenoeg vier-miljoen mense in Suid-Afrika werk in die informele ekonomie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die uittredende direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê sy is bewus van ‘n aanklaer wat na bewering by sindikate betrokke is. Batohi sê die ondersoek is tans sensitief en sy gaan nie die persoon se naam bekendmaak nie.

Dan skryf die webblad president Javier Milei van Argentinië het volgens berigte ook besluit om die G20-beraad in Suid-Afrika te boikot. Dit volg na ‘n vergadering met president Donald Trump.

En laastens word berig die direkteur van Chubby Chick in Potchefstroom wat doodgeskiet is, was Jonathan Fourie terwyl sy broer Deon ernstig gewond is. Die skietery hou glo verband met ‘n eiendomstransaksie.

GAUTENG:

# The Star:

Berig die broers Siyabonga en Malusi Ndimande, wat daarvan beskuldig word dat hulle AKA en Tebello Motsoane vermoor het, het gister vanuit Eswatini in Suid-Afrika aankom. Die Departement van Justisie sê alle logistiek is in plek en die broers sal aanklagte van moord en sameswering om moord te pleeg, in die gesig staar.

En tweedens vra die koerant of dit op naamskending neerkom om ‘n persoon se Vigs-status bekend te maak.

# Sowetan:

Berig die Ekurhuleni-metropolisiehoof, brigadier Julius Mkhwanazi is uiteindelik geskors nadat dit by die Madlanga-kommissie aan die lig gekom het dat hy vir jare deur die metrobestuur teen beweerde ernstige aanklagte beskerm is.

# En The Citizen:

Skryf ook oor metropolisiebeamptes wat beskerm word. Die koerant berig daar is nagenoeg 300 metropolisiebeamptes wat ernstige ootredings begaan het maar deur die bestuur teen vervolging beskerm word.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oud-Maties het die Universiteit Stellenbosch se konvokasiebestuur beskuldig dat hulle doelbewus Afrikaans bevorder. Die voorsitter van die konvokasie, professor Theo de Jager het egter gesê die bestuur skakel met talle organisasies.

En tweedens skryf die koerant die Hugenote-tonnel sal voortaan sekere weeksaande gesluit wees vir herstelwerk nadat ‘n bus in Oktober in die tonnel aan die brand geslaan het.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die inwoners van Buffalo City se geveg met die metro oor elektrisiteitstariewe is nog lank nie verby nie.

En skryf landelike gemeenskappe in die Oos-Kaap moet rivierwater drink wat met vee gedeel word nadat die krane opgedroog het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die EFF-leier Julius Malema sê Shamila Batohi moet onmiddellik haar pos ontruim nadat sy geweier het om die naam van ‘n misdadige aanklaer aan die parlementêre ad hoc-komitee te verskaf.

En tweedens berig die koerant ook oor Siyabonga en Malusi Ndimande se terugkeer na Suid-Afrika.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig slagoffers van geslagsgeweld sê Namibië staan op die rand van ’n morele noodtoestand. Volgens hulle het geslagsgeweld in die land lank reeds epidemiese afmetings bereik.

En tweedens skryf die koerant die inwoners van Hentiesbaai beweer die voorafbetaalde kragmeters wat geïnstalleer is laat hul meer betaal.