Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 November 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Elon Musk se maatskappy X het ‘n ooreenkoms aangegaan om Suid-Afrika se media-inkomste te ondersteun. Die koerant skryf dit volg op ‘n skikkingsooreenkoms met X Corp en X.AI.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die voormalige minister van Finansies, Trevor Manuel, sê die ANC kan nie meer staatmaak op bevrydingsgeskiedenis om stemme op hom te verenig nie. Die mense wil hê die regering moet ‘n verskil maak in hul lewens.
En tweedens skryf die webblad die 14-jarige seun wat die 51-jarige huiswerker, Nomsa Mokoena, van Barberton doodgeskiet het, is in hegtenis geneem en in die sorg van sy ouers geplaas. Hy het reeds in die hof verskyn en die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die 41-jarige Durbanse sekuriteitsbaas, Ferrel Govender, wat van die moord op Umhlanga-sakeman, Shailen Singh, aangekla is, is oorlede. Die koerant skryf volgens ‘n bron is Govender in ‘n hospitaal dood. Hy en sy broer, Darren, is daarvan beskuldig dat hulle Singh verskeie kere in ‘n parkeerterrein in Umhlanga geskiet het. Hulle was verhoorafwagtend.
# Sowetan:
Berig die inwoners van Soweto wat ernstige skade gely het in oorstromings die afgelope dae, blameer die stadsraad vir die swak dreinering in die gebied. Minstens een persoon is dood en ‘n 11-jarige dogtertjie word steeds vermis terwyl talle mense dakloos gelaat is.
# En The Citizen:
Skryf die Gautengse Departement van Gesondheid is gedompel in skuld van sowat 3,6-miljard-rand.
En berig die Tshwane-metropolisie het ‘n strafregtelik klag ingedien teen ‘n weermaglid wat ‘n beampte se dienspistool gegryp het tydens die verwydering van onwettig geparkeerde motors in Visagiestraat.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die oorweldigende steun vir die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, ná sy skorsing van ses internasionale wedstryde. Die koerant skryf steun stroom in uit talle oorde en Suid-Afrika staan bankvas agter Rassie.
En tweedens skryf die koerant die regering het die salarisse en voordele van burgemeesters, speakers en raadslede in die Staatskoerant afgekondig. Dis vier-persent hoër as die vorige bedeling.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die finansiële hoofbestuurder van Nelson Mandelabaai het versoek dat nuwe aanstellings op die lange baan geskuif word aangesien daar ‘n tekort aan fondse is.
En tweedens skryf die koerant die forensiese patoloog, dokter Annemarie Louise Mattheus, het die gruwelike omvang van Vanessa van Rensburg se noodlottige beserings uiteengesit tydens die moordverhoor van haar kêrel, die Gqeberha-sakeman Rob Evans.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die instelling van ‘n nuwe terminaalbedryfstelsel by die Durbanse hawe het onder meer tot ernstige vertragings gelei. Dit sluit ook in lewensreddende medikasie wat ingevoer word. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het gevra dat dringende aandag aan die probleem by die hawe geskenk word.
En die koerant berig ook oor die nuwe vergoeding vir burgemeesters, speakers en raadslede.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vir inwoners van die Osona-nedersetting naby Okahandja is die rioolkrisis nie meer net ’n infrastruktuurkwessie nie. Dit het ‘n daaglikse gesondheidsrisiko geword met riool wat terugstroom in eiendomme.
En tweedens skryf die koerant oor die suksespad van Lena Florry wat van kelnerin tot bestuurder gevorder het. Die koerant berig toe Florry in die Driefontein-nedersetting grootgeword het, het sy nie die voorreg gehad om in ’n bed te slaap of om skoene skool toe te dra nie.