Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 November 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC bied vir ActionSA die burgemeesterstoel in Johannesburg aan om die DA te omseil en Herman Mashaba se posisie as Johannesburgse burgemeester te bevestig.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig vlak twee-waterbeperkings is van Maandag deur Tshwane ingestel om te verhoed dat Rand Water se stelsel ineenstort. Die webblad publiseer ‘n reeks beperkings waaraan inwoners moet voldoen, anders kan hulle beboet word.
En tweedens skryf die blad lede van die Tshwane-metropolisie is deur weermaglede met vuurwapens gedreig toe hulle voertuie wat onwettig in Visagiestraat geparkeer was, wou verskuif.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf SA Rugby het amptelik versoek dat ‘n volledige tugverhoor oor wangedrag bespoedig word vir die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus, nadat Wêreldrugby hom met ‘n onmiddellike skorsing van ses internasionale wedstryde gestraf het. Dit volg op sy kritiek teen die toepassing van wedstrydreëls en -beamptes tydens die Franse toets. Die koerant berig SA Rugby het bevestig die unie maak gebruik van Erasmus se reg om die skorsing te betwis.
# En Sowetan:
Berig die DA is bereid om die party se leier, Geordin Hill-Lewis, met Helen Zille om te ruil as Johannesburgse burgemeester om die dooiepunt in sy koalisiesamesprekings met ActionSA te verbreek.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê die ooreenkomste moet nog net onderteken word, dan gaan die party koalisies vorm met die ANC in Johannesburg en Tshwane. Die ooreenkoms stuit Helen Zille se kans om burgemeester van Johannesburg te word en sluit die meerderheidsparty, die DA, uit.
En tweedens skryf die koerant brandspanne van die Overstrand veg reeds vir vier dae teen ‘n Hawston-brand en moes gister in Mount Pleasant huise ontruim weens ‘n brand op die berg.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC se provinsiale bestuur moes ingryp toe twee plaaslike leiers, die streeksvoorsitter, Babalwa Lobishe, en die streeksekretaris, Siphiwo Tshaka, openlik oor die swak verkiesingsuitslae in die provinsie gebots het in KuGompo-stad.
En tweedens skryf die koerant oor die gedenkdiens vir die voormalige onderburgemeester van Nelson Mandelabaai, Luxolo Namette, wat op 7 November vermoor is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die eggenoot van ‘n 52-jarige Kanadese vrou, Karyn Arnauld Bakelaar, het in die Richmond-landdroshof verskyn nadat haar liggaam in ‘n vlak graf op haar plaas gevind is.
En tweedens word berig die Gateway-winkelsentrum is deur Ou Mutual aan Vukile Property Fund verkoop vir 9,9-miljard-rand. Die verkryging maak van Vukile die grootste eienaar van kleinhandeleiendom in Suid-Afrika.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese maatskappy wat onder meer brandstof in die land aflewer, August 26 Holdings, het ’n ondersoek van stapel gestuur na tien kleiner brandstofverskaffers waarmee hy sedert Junie 2024 sake gedoen het.
En tweedens skryf die koerant ‘n jaar nadat ’n ongeluk in Windhoek die lewens van drie lede van dieselfde familie geëis het, soek hul familielede steeds antwoorde oor die omstandighede rondom die ongeluk.