Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 November 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Arbeidsregistrateur het die vakbond NUMSA opdrag gegee om sy geouditeerde finansiële state in te handig. Die registrateur het gedreig dat hy die vakbond onder administrasie sal plaas indien die interne stryd in NUMSA vererger.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê daar is ‘n doelbewuste poging deur sommige partye om die party uit koalisies te hou. Hy sê daar word geredekawel oor persoonlike voorkeure terwyl die wil van die meerderheidstem geïgnoreer word.
En tweedens skryf die webblad oor die jongste massaskietery in Atteridgeville, Tshwane waaroor die Sowetan ook in detail berig.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die leier van ActionSA, Herman Mashaba, tree tans na vore as die voorkeurkandidaat vir burgemeester onder kleiner partye in Johannesburg. Bronne het aan die koerant gesê kleiner partye steun Mashaba omdat hy voorheen as burgemeester van Johannesburg gedien het.
# Sowetan:
Berig die polisie het een van die nege slagoffers van die jongste massaskietery in Atteridgeville verbind met ten minste twee vorige voorvalle. Die koerant skryf die moorde hou moontlik verband met ‘n magstryd tussen spazawinkels in die gebied.
# En The Citizen:
Skryf daar is ‘n kommerwekkende tekort aan lewensreddende medikasie by Gautengse gesondheidsorginstellings. Pasiënte word met leë hande weggewys en die Gautengse Departement van Gesondheid kon nie antwoorde aan die DA verskaf nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig vlak 1-waterbeperkings sal van 1 Desember af in Kaapstad ingestel word. Die koerant skryf die stad het ‘n daling van sewe-persent in sy watervoorraad ná die reënseisoen.
En tweedens skryf die koerant ‘n 28-jarige vrou is beseer toe die George-toeristetrein haar skrams getref het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is steeds voorbereidings aan die gang by die Newtonpark-swembad en op Koningstrand waar die Wêreld-lewensreddingskampioenskap van 25 November af aangebied word. Die koerant skryf daar heers kommer oor die gereedheid van die fasiliteite.
En tweedens skryf die koerant die eerste Airlink-vlug van Gqeberha na die Kruger-wildtuin het geland.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor ‘n ernstige ongeluk waarby ‘n luukse bus betrokke was op die N-3 naby New England-weg in Pietermaritzburg. Die woordvoerder van die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer, Ndabezinhle Sibiya, het aan die koerant gesê die bus, wat ongeveer 28 passasiers vervoer het, het teen die padversperrings gebots nadat die bestuurder na bewering beheer verloor het weens spoed. Dit het ernstige beserings voorkom.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Finansies se amptelike opdrag aan gesondheidsorgverskaffers om nie behandeling aan Psemas-lede te weier wie se voordele uitgeput is nie, erken in wese die mislukking van die staat se mediese fonds.
En tweedens skryf die koerant meer as 9,5-miljoen-rand het deur die bankrekeninge van die Namibiër Imanuela David gevloei, wat skuldig bevind is in verband met die diefstal op president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaas.