Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die staking van vlieëniers by FlySafair wat vir een dag beplan is, is deur die maatskappy verleng tot twee weke met ‘n uitsluitingskennisgewing wat aan die vakbond Solidariteit gestuur is.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu is nie onregverdig bevoordeel nie. Hy sê die opsystaanreël geld wanneer iemand aangekla word of in die hof verskyn.

Dan skryf die koerant sowat 25 jong Wes-Kaapse sokkerspelers is in Europa vasgekeer omdat die organisasie wat die toer na Spanje gereël het, BT Football na bewering geen retoerkaartjies bespreek het nie.

En laastens is daar nuus oor die Junior Springbokke wat die O.20-Wêreldtoernooi gewen het.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf byna 200 Suid-Afrikaners is tans in Thailand gestrand nadat hulle slagoffers van ‘n mensehandelsindikaat geword het. Hulle is gelok deur die beloftes van goeie vergoeding op sosiale media. Die koerant berig ‘n Chinese mafia-netwerk sit na bewering agter die sindikaat. Die bedrogspul teiken jong Suid-Afrikaners wat vlot Engels praat, rekenaarvaardig is en bemarkings- of IT-kwalifikasies het.

# Sowetan:

Berig die duisende aansoeke wat die polisie ontvang het vir rekruut-poste is ‘n duidelike bewys van hoe groot die werkloosheidskrisis onder jong mense is.

# En The Citizen:

Skryf oor nog ‘n rehabilitasiesentrum waar skokkende gebeure aan die lig gekom het. Die koerant berig ‘n motoris het na bewering gesien hoe ‘n werknemer van die Tetelestai Recovery Centre in Amanzimtoti van ‘n sak met ‘n fetus ontslae raak. Dit volg glo op die dood van ‘n pasiënt by die rehabilitasiesentrum vir dwelmmisbruik. Die polisie gaan nou ondersoek instel.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die Suid-Afrikaanse sokkerspelers wat in Europa gestrand is. Die koerant berig die ouers van die spelers het voor hul vertrek reeds nagenoeg 50-duisend-rand per kind ingesamel.

En tweedens die makabere storie oor oom Pieter en tannie Annetjie Human van Lephalale wat vir ‘n opskudding gesorg het met hulle advertensiebord: “Human biltong for sale”.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ‘n gedetailleerde ondersoek deur die Raad vir die Bou-omgewing het bevestig dat kritieke veiligheidskwessies wat maande voor die katastrofiese ineenstorting van die gebou in George geopper is, geïgnoreer is.

En tweedens skryf die koerant die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê hy sal ‘n aantal wetgewende hervormings instel om toekomstige tragedies te vermy. Macpherson het ook ‘n polisieondersoek versoek na diegene wat strafregtelik verantwoordelik is vir die tragedie.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die verkeersoudit wat in Msunduzi uitgevoer is, het talle probleemgebiede uitgelig.

En tweedens word berig die munisipaliteit se afvalwateraanleg word opgegradeer.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Stad Windhoek se elektrisiteitsdepartement werk met net meer as 60-persent van sy personeelkapasiteit, met net 140 uit 230 goedgekeurde poste wat gevul is. Tans is daar 52-duisend huise wat op krag wag.

Dan skryf die koerant die ontleding van watermonsters uit die Stampriet-akwifer word vertraag omdat die laboratorium voorafbetaling vereis.

En laastens is daar nuus oor Mej. Namibië, Johanna Swartbooi.