Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Oktober 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die metaalwerkersvakbond, NUMSA, het sy nasionale leiers onthef van hul posisies. Die sentrale komitee sal nou beheer neem te midde van ‘n leierskapstryd in die vakbond.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die liggaam van die 28-jarige Anathi Maguga wat ‘n klein bakonderneming in Gqeberha bedryf het, is Saterdag in die bosse in Motherwell gevind. Sy is Vrydagoggend as vermis aangemeld.

En tweedens skryf die webblad die apteekgroep Dischem kon Saterdag as gevolg van tegniese probleme nie afslag toestaan volgens sy Better Rewards-program nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf passasiers op Airlink-vlug 4Z 951 van Johannesburg na Kaapstad moes gistermiddag aan boord van ‘n vervangingsvliegtuig gaan nadat die vliegtuig waarin hulle gereis se band met opstyging gebars het. Airlink sê ingenieurs ondersoek die oorspronklike vliegtuig om te bepaal hoe dit so vinnig as moontlik veilig van die aanloopbaan verwyder kan word.

# Sowetan:

Berig Johannesburg se waterkrisis het verder uitgekring met die bestuurders van watertenkwaens wat nie meer al die dienspunte kan inpas nie. Sekere gebiede is nou reeds agt dae sonder water.

# En The Citizen:

Skryf nadat die jongste probleme met die betaling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se salarisse aan die lig gekom het, het die organisasie OUTA gevra of nog belastingbetalersgeld gebruik gaan word om die lugdiens in die lug te hou.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ‘n nuwe meningspeiling dui daarop dat die ANC nog slegter daaraan toe is as volgens vorige peilings en sommige kenners verwag selfs dat daar ‘n skok op die party wag. Oudpresident Thabo Mbeki het kommer uitgespreek oor waar die ANC hom gaan bevind na die verkiesing.

En tweedens skryf die koerant oor vier gewapende rowers wat ‘n 28-jarige vrou in Somerset-Wes beroof het van persoonlike items nadat hulle haar vasgebind het. Sy is nie in die voorval beseer nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar hang talle vrae oor die aanstelling van ‘n nuwe finansiële hoof vir die Nelson Mandelabaai-metro. Daar word beweer daar is politieke inmenging in die werwingsproses.

En tweedens skryf die koerant die ANC gaan nie ‘n kandidaat stel in Qunu waar wyle president Nelson Mandela grootgeword het nie.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Msunduzi-munisipaliteit stel ondersoek in na die chaos wat tans die stad se taxi-bedryf ontwrig.

En tweedens word berig die publiek het reeds 70-duisend-rand ingesamel vir die pa van Pinetown wat kapers geskiet het om sy kind te beskerm

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig terwyl die voorkoming van die verdere verspreiding van bek-en-klouseer en die beskerming van Namibië se dieregesondheidstatus noodsaaklik bly, word die ekonomiese gevolge van die langdurige markontwrigting toenemend moeilik.

Dan skryf die koerant die leiers van die OvaHimba en OvaTjimba sal na verwagting vanoggend ’n klagskrif teen die voorgestelde Baynes-hidrokragprojek aan die minister van Myne, Energie en Nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, oorhandig.

En laastens is daar nuus oor jong Switserse koorsangers wat hul kuier langs die Namibiese kus terdeë geniet het.