Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die eksklusiwiteitskontrakte vir kruideniersgroepe in winkelsentrums verstryk teen die einde van Desember wat meebring dat sentrums moet voorberei vir groter mededinging en die verbruiker ‘n wyer keuse gestel word.
# Mail & Guardian:
Skryf die koerant het ondersoek ingestel na die gebruik van SASSA-fondse wat vir armes bestem was, om na bewering die uitvoerende hoof, Themba Matlou, se beeld te poets.
# Die Papier:
Berig eerstens wit en bruin kiesers in Tshwane, Johanneburg en die Wes-Kaap gaan op 4 November die DA se behoud wees. In al die gebiede loop die DA voor die ANC volgens meningspeilings.
Dan skryf die koerant die syfers wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, in sy mini-begroting bekend gemaak het knou die regering van nasionale eenheid se teiken om ‘n groeikoers van drie-persent te haal.
En laastens word berig oor die beweerde drankprobleem onder Suid-Afrikaanse beroepsrugbyspelers.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die EFF-leier, Julius Malema, sê die party is gestig uit liefde vir Suid-Afrika en sy mense. Hy het tydens ‘n verkiesingsveldtog in Mangaung gesê die EFF wil die maatskaplike toelaes verhoog, die kabinet kleiner maak en die adjunkministers afdank.
En tweedens skryf die webblad die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê 350 beamptes is die afgelope boekjaar afgedank wees wangedrag en nog nagenoeg ‘n duisend word tans ondersoek as deel van ‘n skoonmaakproses.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Jacob Zuma se MK-party het sy sekretaris-generaal, advokaat Sibonelo Nomvalo, minder as twee weke voor die plaaslikeregeringsverkiesing afgedank en hom beskuldig dat hy belangrike partybesluite agter die leierskap se rug neem. Hy het glo hoëvlak-ontplooiingskomitees sonder die leierskap se medewete saamgestel en die party se parlementêre koukus en administrasie herskommel sonder om Zuma in kennis te stel.
# Sowetan:
Berig die Johannesburgse Metropolisie se geld is op en hulle kan nie meer brandstof aankoop vir hulle patrollievoertuie nie. Die bestuur het glo opdrag gegee dat hulle hul motors parkeer en slegs reageer op noodoproepe. Daar word tans geen patrollies gedoen nie.
# En The Citizen:
Skryf die waterprobleme in Bronkhorstspruit, Tshwane is nie uniek nie. Soortgelyke voorbeelde van onbehandelde drinkwater kom oral voor en in al die gevalle kruip die munisipaliteite weg agter leuens en verskonings.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het die Wes-Kaapse regering gewaarsku om voorbereid te wees op die uitwerking van El Niño op watersekerheid. Die damvlakke staan nou op 73,5-persent teenoor 89,1-persent ‘n jaar gelede.
En tweedens skryf die koerant oor die motorongeluk op die Helshoogtepas wat die lewe geëis het van die sesjarige Berto-Lee Adams en sy ma Gaynor ernstig beseer gelaat het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die kantoor van die Openbare Beskermer het ‘n verrassingsbesoek gebring aan die Livingstone-hospitaal in Gqeberha en dieselfde omstandighede aangetref waaroor daar reeds maande gekla word. Dit sluit in personeeltekorte, bestuursmislukkings en onaanvaarbare lang wagtye vir pasiënte.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor Suid-Afrika se dobbelbedryf wat nou reeds 1,5-duisend-miljard-rand sterk staan en die gevolge daarvan wat in sommige gevalle selfs selfdood insluit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese regering het 179-miljoen-rand beskikbaar gestel vir die inperking van bek-en-klouseer, aangesien bewegingsbeperkings steeds veeverkope ontwrig en druk op boere se kontantvloei plaas.
En tweedens skryf die koerant 14 regeringskantore, ministeries en agentskappe het verlede jaar 1,2-miljard-rand aan die staatskoffers terugbetaal.