Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oudpresident Thabo Mbeki het voor die Khampepe-kommissie, wat politieke inmenging in die vervolging van apartheidsmisdade ondersoek, getuig hy het nie enige WVK-vervolgings gekeer nie. Mbeki sê die Nasionale Vervolgingsgesag het versuim om die sake te vervolg.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa het erken dat Suid-Afrikaners moeilike tye beleef, maar belowe dat dit weer beter sal gaan.
En tweedens skryf die webblad ook oor die Khampepe-kommissie. Mbeki het gesê daar was geen waarde om wyle president FW de Klerk in hegtenis te neem nie, dit sou slegs die stryd verleng.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ‘n selfaangestelde Keniaanse prediker, Paul Mackenzie, en sy medewerkers is skuldig bevind aan die moord op 191 mense, hoofsaaklik kinders, in ’n berugte hongersnoodkultus. Die koerant berig sedert 2023 is honderde liggame by die kultus se basis ontdek in wat bekend geword het as die Shakahola-woudslagting. Die pastoor het sy volgelinge aangemoedig om hulself te verhonger om Jesus te ontmoet.
# Sowetan:
Berig die Stad Tshwane het erken dat hy nie die inwoners van Bronkhorstspruit gewaarsku het dat die drinkwater in die gebied vir drie weke nie behandel is nie. Meer as 400 mense het siek geword, meestal kinders onder vier, en het behandeling ontvang vir diarree en maagkrampe.
# En The Citizen:
Skryf Mbeki sê aantygings dat hy apartheidsleiers gehelp het om vervolging vry te spring is alles leuens.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die talle buitelandse bates van die Suid-Afrikaanse regering wat vervalle is. Suid-Afrika se oorsese diplomatieke eiendomme staar wydverspreide verwaarlosing, strukturele verval en duur onderhoudsagterstande in die gesig. Die Ouditeur-generaal sê niemand is aanspreeklik gehou om na die bates om te sien nie.
En tweedens skryf die koerant oor die negende Indië–Brasilië–Suid-Afrika-vlootoefening wat op die oomblik in Simonstad gehou word. Dit duur tot 21 Oktober.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Onthul hoe ‘n 35-jarige verswakte verstandelik gestremde man in KwaNobuhle in ‘n donker plakkershut wat lek toegesluit is.
En tweedens word berig die werkers by die plaaslike poskantoor gebruik hulle eie selfone en lugtyd om die kantoor wat onder vandale deurgeloop het, operasioneel te hou.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n groot eiendomsontwikkeling in Pietermaritzburg is gestaak weens regs- en finansiële geskille, met verskeie hofbevele en insolvensieprosedures wat bates in die gebied raak. SG Knott Construction CC is in likwidasie geplaas.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se uitbreking van bek-en-klouseer kan die regering na raming 1,8-miljard-rand aan bykomende uitgawes en verlore belastinginkomste kos.
En tweedens skryf die koerant die Staatsdienskommissie wil hê regeringsamptenare moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir finansiële verliese wat deur blatante nalatigheid veroorsaak word.