Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die finansiële leiers van die G20 werk daaraan om die koste van oorgrensbetalings te verlaag en die toegang tot die betalingstelsel in Afrika te verhoog. Migrante word belas met hoë betalingskoste wat die instelling van die vasteland se vryhandelsooreenkoms belemmer.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Skryf die bewerings van bedrog teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu het ‘n donker wolk geplaas op die integriteit van die ANC se bestuur in KwaZulu-Natal.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die uitspraak in die saak teen Amber Lee Hughes vir die moord op die vierjarige Nada-Jane Challita is ter elfder ure uitgestel nadat Hughes haar regsverteenwoordiging verander het. Nada-Jane se pa Elie sê hy beskou dit net as vertragingstaktiek.

Dan skryf die webblad oor die vermoedelike selfdood van die 21-jarige Jonathan Gouws, ‘n regstudent aan die Noordwes-universiteit. Sy liggaam is in ‘n stoorkamer by die Kom-en-Gaan-koshuis gevind.

En laastens word berig die polisie het reeds meer as 920-duisend aansoeke vir vyf-duisend-500 rekruutposte ontvang.

GAUTENG:

# The Star:

Berig ekonome en politieke ontleders meen een van die hoofredes vir Donald Trump se tariefbeleid is die kommer in die VSA dat BRICS-lande ‘n strategiese beleid ontwikkel om die dollar te ondermyn.

# Sowetan:

Berig oor ‘n brugprojek in Diepsloot wat in 2021 begin is nadat ‘n leerder in die Jukskeirivier verdrink het. Nagenoeg 67-miljoen-rand is reeds bestee en dit blyk nou dat ‘n verdere 12-miljoen-rand nodig is om die projek te voltooi.

# En The Citizen:

Skryf van die belangrikste roetes in Johannesburg word bedreig en kan ineenstort as gevolg van onwettige myners wat oral tonnels grawe.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die storm wat losgebars het rondom die DA se woordvoerder oor buitelandse sake, Emma Powell. Sy het onthul dat Suid-Afrika se spesiale gesant Mcebisi Jonas glo toegang tot die VSA geweier is. Daar is ook beweer dat sy sogenaamde onwaarhede oor die land versprei. Die DA wil nou amptelik van die ANC-regering weet of daar op Powell gespioeneer is.

En tweedens skryf die koerant die onderwyskenner, professor Mariëtte Reyneke van die Universiteit van die Vrystaat, sê die uitwerking van die Bela-wet op Afrikaanse skole moet nie emosioneel benader word nie. Sy sê die wet beteken nie ‘n doodskoot vir Afrikaanse skole nie.

OOS-KAAP:

# Daily Despatch in Oos-Londen:

Berig die gewelddadige betogings oor die verwydering van onwettige kragverbindings duur steeds voort.

En skryf daar is na bewering ‘n student aangestel om die skietery by die Walter Sisulu-universiteit te ondersoek.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar bestaan kommer oor die vertraging met inentings.

En berig Ballito skud sy vere reg om die G20-ministers te ontvang.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Meatco het van Oktober 2024 tot Mei vanjaar miljoene rand aan voerkrale betaal wat in die tydperk onaktief was.

Dan skryf die koerant een van die beskuldigdes in die Enercon-Namcor-korrupsiesaak sê wanopvattings wat aangevoer word, stel sy familie in gevaar.

En laastens wil die Erongostreek die majestueuse Brandberg tot amptelike Unesco-wêrelderfenisterrein laat verklaar.