Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die beleërde suikervervaardiger, Tongaat Hulett, gaan ná 74 jaar onttrek aan die Johannesburgse Effektebeurs. Die koerant skryf dis die einde van ‘n era vir ‘n maatskappy wat deur skandale geteister is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig dit het in die Konstitusionele Hof aan die lig gekom dat die ANC moontlik slegs nalatig was met die indiening van hul Oos-Kaapse kandidaatlyste. Die party het nagelaat om die indieningsknoppie te druk. Die Verkiesingskommissie sê die ANC volg die proses reeds vir tien jaar, maar hulle het die keer te laat wakker geskrik.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf gewelddadige betogings het op die Westville-kampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal uitgebreek nadat die uitslag van die verkiesing van die Studenreraad betwis is. Die ANC-geaffilieerde South African Students Congress het die verkiesing gewen. Ondersteuners van die EFF-jeugbevel betwis die uitslag en beweer dat daar onreëlmatighede in die stemproses was.
# Sowetan:
Berig oor hoe die polisie-ondersoek na die moord op die Oos-Randse drawwer, Elizabeth ‘Tsontso’ Moselakgomo, gelei het na die verkoop van haar Garmin-tydhouer en die arrestasie van twee verdagtes en die winkeleienaar wat dit vir vier-duisend-rand probeer verkwansel het.
# En The Citizen:
Skryf die regering wurg die land dood. In Mpumalanga is daar die afgelope drie jaar 6,78-miljard-rand vermors. Die Ouditeur-generaal sê dit kan toegeskryf word aan swak beheermaatreëls, korrupsie en geen nagevolge vir die oortreders nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die ANC se stryd in die Konstitusionele Hof om sy Oos-Kaapse kandidate in te sluit.
Dan skryf die koerant oor die veteraan-akteur, die 81-jarige Marius Weyers, wat met terminale kanker gediagnoseer is.
En laastens is daar nuus oor die Suid-Afrikaanse televisieaanbieder en motiveringsspreker Michael Mol wat sy Vespa-sleutels verloor het en hoe die Kaapstadse Metropolisie hom gehelp het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor die rioolkrisis in Helenvale in Gqeberha. Die uitloop van riool in die strate het nou so erg geword dat die inwoners kanale grawe om die riool uit hul sitkamers te hou.
En tweedens skryf die koerant die eienaar van La Gardi in Gqeberha, Dawood Lagardien, moet 200-duisend-rand betaal en verskoning vra nadat hy ‘n kennisgewing wat gay mense in sy verpakkingsmateriaalwinkel verbied, vertoon het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oudpresident Jacob Zuma het glo merkwaardige herstel getoon en berig oor die hittegolf in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die suidelike streke, Hardap en Kharas, is diep in die skuld by NamPower. Die streekrade en plaaslike owerhede skuld die kragvoorsiener sowat 613-miljoen-rand.
Dan skryf die koerant die familie van ’n graad 12-koshuisleerder van Kavango wat ernstige kop- en rugmurgbeserings in ‘n duikslag opgedoen het, beweer die seun en ander koshuiskinders is sonder toesig gelaat.
En laastens is daar nuus oor ’n weesrenosterkalfie van die Rhino Momma Project wat dringend vetvrye melk nodig het.