Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Suid-Afrikaanse Reserwebank ontwikkel tans nuwe raamwerke om kriptogeldeenheidgebruik te reguleer. Die koerant skryf die bank fokus op die integrasie van digitale bates in binnelandse en oorgrens-betalings.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê president Cyril Ramaphosa het ‘n vyfpuntplan bekend gemaak vir die hantering van immigrasie en verwante wetsoortredings. Sy sê almal in die land moet wettig hier wees.
En tweedens skryf die webblad ‘n vrou is gistermiddag in Durban-Noord in ‘n vermeende sluipmoordaanval in haar motor doodgeskiet terwyl haar minderjarige kind ook in die voertuig was.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die meer as 600-miljoen-rand wat aan die polisie-operasie tydens die protesoptogte op 30 Junie bestee is, verdedig. Hy sê die ontplooiing was nodig om ‘n herhaling van vorige gewelddadige onrus te voorkom en die befondsing het uit die bestaande polisiebegroting gekom.
# Sowetan:
Berig meer as 53-duisend buitelanders is sedert Junie gerepatrieer of gedeporteer. Die regering sê hy sal voortgaan met massa-deportasies en geen ander land sal aan hom voorskryf hoe hy sy immigrasiewetgewing moet toepas nie.
# En The Citizen:
Skryf oor die uiters haglike omstandighede by die Rob Ferreira Hospitaal in Mbombela. Daar is ‘n tekort aan dokters, verpleegpersoneel, toerusting, beddens en linne en daar is al vier jaar lank geen warm water nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die skielike dood van die Bafana Bafana-middelveldspeler, die 25-jarige Jayden Adams, wie se liggaam Saterdag gevind is. Huldeblyke stroom van oral in, maar sy familie en veral sy vrendin, is die swaarste getref.
En tweedens is daar nuus oor die jongste skietvoorval in die Wes-Kaap. Twee mense is doodgeskiet en sewe gewond in ‘n skietery in Malmesbury.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig hoewel duisende toeriste die jaarlikse Knysna-oesterfees besoek het, het bitter min van hulle by hotelle of gastehuise in die dorp oorgeslaap.
En tweedens skryf die koerant daar is bykans nie een verkeerslig in Nelson Mandelabaai wat werk nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die burgemeester van die uMngeni Plaaslike Munisipaliteit, Chris Pappas, sê sy bestuur sal voortgaan om eerlike, deursigtige en verantwoordelike regering te lewer. Hy is vir ‘n tweede termyn as DA-burgemeesterskandidaat benoem.
En tweedens word berig oor die reusetekort aan kardio-dokters in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig een van Namibië se grootste farmaseutiese groothandelaars kan ’n onbillike voordeel bo sy mededingers kry indien die Franse gesondheidsorgmaatskappy CFAO Healthcare toegelaat word om Nampharm sonder waarborge oor te neem.
Dan skryf die koerant die minster van Gesondheid, dokter Esperance Luvindao, het bevestig dat die departement verlede jaar skikkings van nagenoeg 1,3-miljoen-rand in ses regsgedinge betaal het.
En laastens word berig luidens ‘n verslag oor die Namibiese regering se Program vir Regstellende Indiensneming loop dit die risiko om “’n duur programmatiese en bestuursmislukking” te wees.