Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die daling van 4,3-persent in die vervaardigingsektor dui op swak BBP-groei, wat ‘n besluit oor die repokoers bemoeilik. Die sektor se jaarlikse daling beklemtoon sy volgehoue stryd weens olieprysskokke.
# Mail & Guardian:
Skryf die voormalige DA-leier, John Steenhuisen, gaan nie voor ‘n tugkomitee van die DA verskyn nie.
En berig die balju het beslag gelê op bates van regter Dikgang Moseneke se familiefirma.
# Die Papier:
Berig die nuwe minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, het nie al haar belange aan die Parlement verklaar nie. Sy is ‘n stigterslid en direkteur van Xiximani va Manana ‘n koöperatiewe onderneming wat steeds sake doen.
Dan skryf die koerant na aanleiding van oudpresident Jacob Zuma se omstrede besoek aan Indië, oor die verhouding tussen Zuma en Suid-Afrika se hoëkommissaris in Indië, professor Anil Sooklal. Dit blyk dat die families lank reeds kontak het.
En laastens is daar nuus oor Afrikaners vir Suid-Afrika se voorgenome besoek aan die Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell die derde.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê hy weier om sy aantygings teen die EFF oor immigrante terug te trek, want dis nóg lasterlik, nóg onwaar. Mbalula het gesê die EFF het ‘n paar jaar gelede restaurante besoek en die eienaars aangeraai om buitelanders aan te stel.
En tweedens skryf die webblad BMW het meer as 10-duisend voertuie herroep weens aansitter-probleme.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake het na ‘n oorsigbesoek aan die Beitbrug-grenspos gesê daar is ‘n ernstige tekort aan hulpbronne. Daar is slegs 40 lyfkameras beskikbaar vir ongeveer 600 grenswagte en slegs vier hommeltuie wat landwyd ontplooi word.
# Sowetan:
Berig hoe die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi en sy kollegas die metro “gemelk” het. Hulle het glo selfs hul eie salarisse verhoog.
# En The Citizen:
Skryf die slag wat die ekonomie toegedien is met die honderde wettige migrante wat die land uitgevlug het, is nog nie bepaal nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor ‘n pastoor van Vredehoek in Kaapstad wat deur drie rowers oorval is toe hy op Tafelberg gaan draf het. Hy sê hy sal nooit weer alleen gaan draf nie.
En tweedens skryf die koerant die regering het ontken dat hy Suid-Afrikaanse eiendomme in die buiteland verwaarloos.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig een van die rowers wat ‘n kerk in KwaZakhele aangeval en beroof het, het tydens die rooftog selfs op die kerk se klawerbord gespeel.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n gesin in Taylors Halt sê hulle het dreigemente ontvang dae voordat ‘n pa van twee en sy vriendin in ‘n huisbrand omgekom het. ‘n Vrou is sedertdien in hegtenis geneem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, Esperance Luvindao, sê ’n forensiese ondersoek na die Namibië Instituut vir Patologie se omstrede voertuigskema van 5,3-miljoen-rand vir uitvoerende hoofde is aan die gang.
En tweedens skryf die koerant meer as 200 leerders het in die eerste termyn in Kavango-Oos swanger geraak.