Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Julie 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die regering soek alternatiewe befondsingsbronne om die uitbreiding van Hoër Onderwys te ondersteun. Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente staar toenemende finansiële beperkings in die gesig ten spyte van verhoogde begrotings.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ‘n onderwyser van die Lotus Gardens Secondary School in Pretoria is afgedank nadat ‘n leerder swanger geraak het.

En tweedens skryf die webblad die 12-jarige seun wat verlede jaar die 14-jarige Malcolm Booysen in Brakpan doodgery het, het skuld erken op aanklagte van strafbare manslag en bestuur sonder ‘n rybewys.

GAUTENG:

# The Star:

Berig die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die watertoevoer na Ratanda is gedeeltelik herstel na dae van gewelddadige betogings oor langdurige watertekorte. Twee mense is dood tydens die betogings en die huis van die uitvoerende burgemeester van die Lesedi plaaslike munisipaliteit, Mluleki Nkosi, is aan die brand gesteek.

# Sowetan:

Berig vanjaar sal gekenmerk word deur die blootlegging van die verrotting in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit het gelei tot ‘n kommissie van ondersoek wat intussen sluipmoorde, dooie getuies en sindikate se infiltrasie van die topstruktuur ontbloot het.

# En The Citizen:

Skryf oor ‘n pensioenaris wie se gesteelde bankkaart gebruik is om 421-duisend-rand se Pick ‘n Pay-geskenkbewyse oor vier dae te koop. Volgens die koerant sê die winkel hy gaan nie verantwoordelikheid aanvaar nie al is van die personeellede gedissiplineer.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor ‘n Stellenbosse gesin wat in hul huis oorval, vasgebind en beroof is. Dis die vierde soortgelyke voorval in die jongste tyd en dit lyk of die rowers huise sonder alarmstelsels teiken.

En tweedens skryf die koerant een van die onderwysers wat ernstig beseer is in die busongeluk van Laerskool Kathu, is na 22 dae uit die hospitaal ontslaan.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Nelson Mandelabaai-metro het die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap skerp gekritiseer in ‘n verslag wat hulle vrysgestel het.

En tweedens skryf die koerant die watergehalte-probleem in dele van die stad duur steeds voort.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar is groot planne om die plaaslike lughawe uit te brei.

En berig tweedens die Australiese vroue het die T20-wêreldbeker gewen.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig eerste minister Elijah Ngurare het die familie van die vermoorde aanklaer, Justine Shiweda, besoek en die onderwysfonds wat vir haar kinders gestig is ondersteun.

Dan is daar nuus oor ’n man wat vir meer as 20 jaar lank met ’n koeël in sy kop rondloop.

En laastens skryf die koerant ’n boervrou van Kuiperpos 3 in die Sesfontein-kiesafdeling in die Kunenestreek het 20 bokke en sewe skape verloor nadat ’n leeuwyfie hulle aangeval het. Die leeu is van kant gemaak.