Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig klimaatkenners wat president Cyril Ramaphosa van raad bedien sê die regering se nuwe energieplan wys nie hoe Suid-Afrika beurtkrag in ‘n paar jaar kan uitskakel nie. Hulle sê hulle kon nie die modellering wat in die plan gebruik word herhaal nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die bekendstelling van die DA se verkiesingsmanifes. Die partyleier, John Steenhuisen sê al is dit feitlik onmoontlik om in die huidige ekonomiese klimaat die land in een termyn reg te ruk, het die DA planne om in werking te stel.
En tweedens skryf die koerant oor die Bulle se segetog van 25-10 teen die Leeus op Ellispark.
# The Star en Pretoria News:
Skryf adjunkpresident Paul Mashatile het gesinspeel op ‘n datum vir die verkiesing.
En berig die party Rize Mzansi het beduidende befondsing ontvang om aan vanjaar se verkiesing deel te neem.
# Sowetan:
Berig oor ‘n Gautengse hoërskool wat weens ‘n tekort aan klaskamers beurte moet maak om leerders te huisves. Dit kom daarop neer dat hulle net 10 uur skoolopleiding per maand ontvang.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die DA se verkiesingsmanifes. Volgens kenners is van die beloftes daarin vervat nie uitvoerbaar in die korttermyn nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die elektrisiteitsvoorsiener aan Mangaung is die naweek geruk deur die moord op ‘n voormalige uitvoerende hoof, Andries Mgoqi en die dood van twee werknemers in ‘n onverwante motorongeluk.
En tweedens skryf die koerant die Futurum Akademie in Jan Kempdorp is in die spervuur nadat die skool die jag van ‘n leeuwyfie opgeveil het vir fondsinsameling.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig volgens die jongste misdaadstatistiek word die meeste geweldsmisdade in Suid-Afrika in die Wes-Kaap gepleeg. Van Oktober tot Desember verlede jaar is meer as drie-duisend-700 geweldmisdade in Kaapstad-Sentraal aangemeld.
En tweedens skryf die koerant ook oor die DA se verkiesingsmanifes.
# En Cape Times:
Skryf die Parlement is van plan om voort te gaan met die afdanking van regter John Hlophe.
En berig boere is gewaarsku om bedag te wees na die uitbreking van varkgriep aangemeld is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n vlieërbranderplankryer van Gqeberha word as ‘n held beskou nadat hy drie mense gered het wat in die see in die moeilikheid beland het.
En tweedens skryf die koerant ‘n predikant en gemeenskapsleier van KwaDwesi is vermoor en deur twee verdagtes beroof van die 100-rand wat hy in sy beursie gehad het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n ma en kind wat in Inanda vermoor is in ‘n beweerde piramiedeskema wat skeef geloop het, se moordenaars is deur die polisie doodgeskiet terwyl hulle op pad was na ‘n reinigingseremonie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar is tans hoëvlak-besprekings in regeringskringe om te bepaal of Nangolo Mbumba foutiewelik as Namibië se vierde president ingesweer is.
En tweedens skryf die koerant die ontslape president Hage Geingob sal in Windhoek in staatsie lê voor hy Sondag in die Heldeakker begrawe word. Sy oorskot sal egter nie na die streke vervoer word sodat landsburgers eer kan betoon nie.