Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het gisteraand die Nasionale Uitvoerende Gesag herskommel en die veranderinge aangebring wat deur die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, voorgestel is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor Ramaphosa se aankondiging gisteraand wat die verskuiwing van John Steenhuisen as minister van Landbou insluit. Dina Pula, wat in oudpresident Jacob Zuma se termyn afgedank is, is die nuwe minister van Maatskaplike Ontwikkeling.
En tweedens skryf die webblad oor die verloop van die teen-migrante-betogings gister wat hoofsaaklik sonder voorval plaasgevind het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrika se dag van afrekening oor onwettige immigrasie het grootliks vreedsaam geëindig, soos die regering belowe het. Maar nie voordat twee mense in ‘n skietery in Hillbrow gewond is, soldate in die strate van Johannesburg ontplooi is, en plunderaars van Kaapstad tot Durban in hegtenis geneem is nie.
# Sowetan:
Berig die Suid-Afrikaanse Polisiediens het gister die toets geslaag om groot skares wat vreedsaam betoog te hanteer.
# En The Citizen:
Lei met: “IT’S NOT OVER”. Die koerant skryf die leier van March and March, Jacinta Ngobese-Zuma sê die organisasie gaan voortaan elke Donderdag betoog totdag die migrante weg is
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor gister se betogings en skryf in die Wes-Kaap is verskeie pogings van plunderaars gestuit. Die Suid-Kaap was doodstil.
En tweedens is daar nuus oor ‘n man wat by ‘n huis buite Durbanville in hegtenis geneem is nadat daar slange en rookgranate in die huis gevind is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die belangrikste voorval gister tydens die teen-immigrasie-betogings in Nelson Mandelabaai was toe inwoners en private sekuriteitsbeamptes namens ‘n migrant-winkeleienaar ingegryp het om hom te beskerm. Verder het alles rustig verloop.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die hoof van die KwaZulu-Natalse Valke, generaal-majoor Lesetja Senona, het met onmiddellike ingang bedank. Sy bedanking kom te midde van korrupsiebewerings en die verdwyning van ongeveer 541-kilogram kokaïen uit ‘n polisie-bergingsfasiliteit in Port Shepstone.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die munisipaliteit van Hentiesbaai sê die verskaffer ITEM Engineering het onwettig opgetree deur die dorp se voorafbetaalde waterkoopstelsel weens ’n beweerde betalingsgeskil te ontkoppel.
En tweedens skryf die koerant ‘n student by die Universiteit van Nambië se Ogongo-kampus, Frans Amutenya, is tans besig om sy eerste 0,5-hektaar rysland in die dorpie Omukuku, in Omusati, te oes.