Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf slegs een uit elke ses regeringstenders is verlede jaar toegeken. Die koerant berig die grootste bedreiging vir beleggings in infrastruktuurprojekte is die afpersing deur sogenaamde ‘sakeforums’.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig AfriForum se dringende hooggeregshofaansoek teen die styging in Johannesburg se wateraanvraagbestuursheffing is van die rol geskrap. Die metro wil die heffing van 1 Julie af met 65-persent verhoog.
En tweedens skryf die webblad die Stad Ekurhuleni se begroting is na die vierde probeerslag goedgekeur – die keer met die hulp van die DA.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrikaners kan uitsien na aansienlike brandstofprysverlagings in Julie, mits die skietstilstand wat verlede week deur die VSA en Iran onderteken is, hou en die Straat van Hormoes oop bly.
En tweedens word berig die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê sy departement het nege-duisend-488 buitelandse burgers van die Durban-inryterrein gerepatrieer en gedeporteer. ‘n Verdere sewe-duisend word tans verwerk.
# Sowetan:
Berig die Madlanga-kommissie het getuienis aangehoor oor die geskorste kommissaris van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en ander beamptes se beweerde betrokkenheid by die diefstal van edelgesteentes in 2023. Hulle het ook probeer inmeng om die ondersoek te keer. Die inligting het aan die lig gekom danksy die getuienis van Getuie K.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die sogenaamde bou-mafia’s wat die bedryf lamlê en ‘n negatiewe uitwerking het op infrastruktuur-ontwikkeling.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, is nie by magte om in te meng by die werksaamhede van die Ampsklagkomitee nie en moet derhalwe die uitslag oor president Cyril Ramaphosa se interdik teen die komitee aanvaar. Die koerant skryf die Nasionale Vergadering het die reëls van die komitee goedgekeur.
En tweedens skryf die koerant die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het met die oog op die beplande teen-immigrantebetoging gesê Suid-Afrika kan nie nog ‘n Julie 2021 bekostig nie. Hy sê dis sy verantwoordelikheid om die land en sy mense veilig te hou.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die huise in Colchester noord-oos van Gqeberha is omring deur riooluitvloei wat die lewensomstandighede ondraaglik en gevaarlik maak.
En tweedens skryf die koerant die deelname van die bekroonde Suid-Afrikaanse digter en skrywer, Zakes Mda, aan die LitFest is uit talle oorde verwelkom.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf lewensbelangrike toelaes wat aan voorskoolse sorgsentrums betaal moet word, is steeds uitstaande en sommige kleuterskole kan nie voortbestaan nie.
En tweedens word berig die misdaad in geslote gemeenskappe is besig om toe te neem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n bejaarde ma wie se 40-jarige seun aan ’n ernstige geestesiekte ly, moet iewers geld soek vir sy chroniese medikasie wat nie by die staat beskikbaar is nie.
En tweedens skryf die koerant die regering het, deur die Namibië Opleidingsowerheid, ’n bedrag van 15-miljoen-rand goedgekeur vir ’n plaas vir die Okakarara-beroepsopleidingsentrum.