Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Madlanga-kommissie het getuienis aangehoor oor ‘n beweerde kokaïentransaksie waarby die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en sy medewerker, Medicare24 se uitvoerende hoof, Mike van Wyk, betrokke was. Die getuienis sluit WhatsApp-boodskappe en ‘n video in.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig met die omstrede Peet Viljoen agter tralies, het die Valke bevestig dat hulle ook drie sake in die Tammy Taylor-bedrogskandaal afgehandel het. Die direkteur van Openbare Vervolgings sal nou besluit of Mel Viljoen ook vervolg sal word.
En tweedens skryf die webblad die baanbreker Amerikaanse musiekprodusent, Clive Davis, is op 94 oorlede.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die polisie in Mpumalanga gaan tugstappe doen teen ‘n beampte wat in unifom gesing en gedans het. ‘n Video hiervan is op sosiale media versprei. Volgens die polisiebestuur oortree sulke gedrag die SAPD-beleid en sy gedragskode.
# Sowetan:
Berig oor die werklike koste van die 30 Junie-betogings. Volgens die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sal dit die polisie sowat 600-miljoen-rand kos om op gereedheidsgrondslag te wees. Privaat sekuriteitsmaatskappye het ook gewaarsku oor verliese weens die ontwrigting van sakebedrywighede.
# En The Citizen:
Skryf dit wil voorkom of die MK-party net soveel finansiële probleme het as oudpresident Jacob Zuma. Die party het glo nie geld om verkiesingsplakkate te druk nie, maar sommige mense glo MK kan sonder geld ‘n veldtog voer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die voorsitter van die parlementêre Ampsklagkomitee, Makashule Gana, sê president Ramaphosa se interdik teen die komitee staar “onoorkombare regshindernisse” in die gesig. Hy het ‘n beëdigde verklaring teen Ramaphosa se aansoek by die Hooggeregshof in Kaapstad ingedien.
En tweedens skryf die koerant ‘n 32-jarige Suid-Afrikaanse vrou is met heroïen ter waarde van 24-miljoen-rand op die Phuket-lughawe in Thailand vasgetrek. Die dwelmmiddels was in troeteldierkos versteek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor ‘n ma wat beweer haar dogter is geboelie by ‘n privaat skool.
En skryf tweedens oor ‘n swanger vrou se verligting dat haar ongebore baba nie beseer is tydens ‘n skietvoorval nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf vriende van die 34-jarige Fundiswa Mngwengwe, wat na bewering vermoor is in ‘n huurmoord wat deur haar suster beplan is, is verlig die twee beskuldigdes het nie borgtog ontvang nie.
En tweedens berig die koerant oor die skokbedanking van die Britse premier Keir Starmer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die oorregulering van die finansiële sektor bring mee dat al hoe meer mense van geldskieters gebruik maak om geld te leen. Die koerant skryf dit vuur ‘n ondergrondse kredietoplewing aan.
Tweedens skryf die koerant stygende skuld onder Namibië se staatsamptenare word met depressie, selfdood en gesinsverbrokkeling verbind. Sommige amptenare neem slegs 500-rand huis toe.
En laastens is daar nuus oor 96 stappers wat weens stygende watervlakke in die Visrivier-canyon gestrand is. Die koerant skryf teen druktyd was 70 na veiligheid gebring.