Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Arbeidshof staar leierskapdilemma in die gesig nadat die Regterlike Dienskommissie besluit het om nie regters Graham Moshoana of Betty Mahalelo aan te stel nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n taxi-ongeluk in Cato Ridge naby Hammarsdale in KwaZulu-Natal het die lewens van 10 mense geëis toe die voertuig in ‘n boom vasgejaag het. Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die bestuurder om ‘n draai beheer oor die voertuig verloor het en in die bosse beland het.
En tweedens skryf die webblad die DA se burgemeesterskandidaat in Tshwane, Cilliers Brink, sê sy deelname aan ‘n misdaadvoorkomingsoperasie by Mabena House in Lynnwood Glen is nie onwettig nie. Hy sê hy gaan nie met sy hande gevou sit terwyl misdaad die stad oorneem nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die taxi-ongeluk in Cato Ridge waarin 10 mense omgekom het.
Dan berig die koerant die Hooggeregshof in Johannesburg het meer as 4,23-miljoen-rand toegeken aan ‘n 74-jarige sakeman wat onwettig by sy sakeperseel in die teenwoordigheid van klante in hegtenis geneem en daarna valslik van bewerings van bedrog en geldwassery aangekla is.
# Sowetan:
Berig die geskorste sersant van die polisie se Georganiseerde Misdaadeenheid, Fannie Nkosi, gaan moontlik met sy getuienis voor die tugverhoor van die geskorste adjunkkommissaris, Shadrack Sibiya, die deurslag gee. Hy gaan getuig oor die geld wat hy na bewering vir Sibiya uit misdadige transaksies ingesamel het.
# En The Citizen:
Skryf ‘n groep onwettige mynwerkers wil die name van die moordenaars in die Wedela-taverneslagting waarin 18 mense dood is aan die polisie oorhandig. Hulle sê dit moet vinnnig gebeur anders gaan daar nog bloedvergieting wees.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die oudits van munispale rade in die Wes-Kaap. Die koerant berig 21 Wes-Kaapse rade het skoon oudits ontvang maar daar is steeds skuld van 62-miljard-rand afgeskryf.
Dan word berig die Suid-Afrikaanse motorwerktuigkundige wat in Mosambiek aangehou is, is vrygelaat nadat ‘n beweerde losprys van meer as 800-duisend-rand betaal is.
En laastens is daar nuus oor die 50-jarige Lynda Elize Schneider wat vervalste dokumente gebruik het om ‘n iPhone in Schweizer-Reneke te koop. Sy is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het ‘n nuwe skool in Bethelsdorp geopen nadat die vorige gebou só onder vandale deurgeloop het dat dit onbruikbaar was.
En tweedens skryf die koerant die Port Elizabet St George’s Club vier sy 160ste bestaansjaar.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n lid van die ANC se streektaakspan en voormalige burgemeester van Richmond, Samora Ndlovu, is verskeie kere geskiet terwyl hy op die R-56 naby Thornville gery het. Volgens polisiewoordvoerder, kolonel Robert Netshiunda, het ‘n ander voertuig voor hom ingery en die pad versper. ‘n Insittende het uit die voertuig geklim en op Ndlovu losgebrand. Hy is in die St Anne’s-hospitaal in Pietermaritzburg opgeneem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ekonomiese uitwerking van bek-en-klouseer op die Namibiese vleisbedryf kring uit met Beefcor wat die aflegging van byna 400 werknemers oorweeg en Meatco wat nuwe uitvoermarkte soek, terwyl kleiner slagpale reeds hul bedrywighede gestaak het.
En tweedens skryf die koerant Rehoboth-inwoners eis dringende optrede oor die herhalende kragonderbrekings en swak watergehalte in die dorp.