Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Junie 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Suid-Afrika is onder 60 lande wat ‘n nuwe 12,5-persent-tarief van die VSA in die gesig staar. Dit word gehef teen lande wat goedere invoer wat deur dwangarbeid vervaardig word. Die voorgestelde tarief is onderhewig aan openbare verhore wat vir 7 Julie geskeduleer is.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die ANC het eise verwerp dat die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, haar aan die ampsklagkomitee onttrek. Die party sê daar is geen aanduiding dat sy die komitee negatief sal beïnvloed nie.

En tweedens skryf die webblad die Inligtingsreguleerder se aansoek om verlof tot appèl teen die publikasie van matriekuitslae is in die Hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf president Cyril Ramaphosa het die groeiende kommer oor jeugwerkloosheid erken en dit beskryf as ‘n groot bedreiging vir Suid-Afrika se voorspoed en maatskaplike bestendigheid. Verskeie LP’s het hom egter gekritiseer omdat hy nie op oplossings vir die krisis gefokus het nie.

# Sowetan:

Lei met: “RESIDENTS TO PAY FOR JOBURG FAILURES”. Die koerant berig inwoners moet help om die stad se waterinfrastruktuur te herstel en die watertarief is van 65- tot 124-rand per maand opgestoot.

# En The Citizen:

Skryf die Parlement het die Stad Johannesburg se finansiële bestuur as “pateties” en “uiters kommerwekkend” bestempel. Dit volg nadat die metro aan die Parlement verslag gedoen het dat hy nege-miljard-rand se slegte skuld van inwoners wat nie vir dienste betaal nie, afgeskryf het.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die Wes-Kaapse regering het verskeie stappe gedoen om te verseker inwoners en besoekers is veilig tydens die verwagte swaar neerslae wat in die volgende dae verwag word. Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het onder meer toegesien dat die stappers op die Otter-wandelpad verwyder word.

En tweedens skryf die koerant die Lotto-trekking onder nuwe bestuur het nie sonder probleme verloop nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig hoewel daar nog talle kwessies is wat in Makhanda opgelos moet word, gaan die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunstefees voort.

En tweedens skryf die koerant oor die probleme wat by die stortingsterrein in Gqeberha ondervind word.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf Malawi het ‘n vrywillige repatriasieprogram vir sy burgers wat in Suid-Afrika woon van stapel gestuur, weens die toenemende geweld teen immigrante.

En tweedens is daar ‘n berig oor die skokkende verkragtingstatistiek in KwaZulu-Natal.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die egskeidingsproses in Namibië het ’n nuwe era betree met die toepassing van die Wet op die Ontbinding van Huwelike. Die wet is meer gefokus op bemiddeling.

En tweedens skryf die koerant ’n betwiste tender vir die herstel van slaggate in Walvisbaai het nou in die Hoërhof gaan draai met ’n onsuksesvolle bieër wat die munisipaliteit probeer keer om die kontrak in werking te stel.