Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Oktober 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die regering het die voorlopige bevindinge van die Afrika-kommissie oor Menseregte en die Regte van Volke oor migrasie in Suid-Afrika verwelkom. Die koerant skryf die Interministeriële Komitee oor Migrasie sê die kommissie het erkenning gegee aan die land se wetlike raamwerk vir die beskerming van menseregte, insluitend dié van vlugtelinge en asielsoekers.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig politici oor die hele spektrum het die regering tydens ‘n spesiale parlementêre debat oor geslagsgeweld en vrouemoord gekritiseer vir sy onvermoë om die euwel hok te slaan.

En tweedens skryf die webblad die polisietaakspan oor politieke moorde in Gauteng het ‘n tweede verdagte in hegtenis geneem vir die moord op die sekretaris van die EFF in Tshwane , Monica Dube.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf ‘n 39-jarige Zimbabwiese man en drie vroue tussen 23 en 29 jaar oud is in hegtenis geneem nadat die polisie ‘n klopjag uitgevoer het by ‘n vermeende dwelmlaboratorium van miljoene rand op ‘n kleinhoewe in Skeerpoort, naby Hartbeespoortdam in Noordwes. Die koerant berig die polisiewoordvoerder, kolonel Adéle Myburgh, sê Brits Misdaadintelligensie en die Hartbeespoortdam K9-eenheid stel verdere ondersoek in.

# Sowetan:

Berig ‘n Johannesburgse informele handelaar, Sibusiso Ngcobo, het ingegryp en gekeer toe Siyabonga Msimanga sy gewese vriendin, Boitumelo Mazibuko, met ‘n mes aangeval het. Ngcobo sê hy kon nie toekyk hoe die vrou vermoor word nie.

# En The Citizen:

Skryf die familie van die 49-jarige Ntombifuthi Nxumalo, wie se naakte liggaam verlede maand in ‘n begraafplaas aan die Oos-Rand gevind is, sê die beskuldigde wat gister verskyn het, Victor Matome Rampedi, het meer regte as hul vermoorde dogter.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor amptenare wat na bewering onregmatig SASSA-toelaes ontvang.

Dan skryf die koerant die hoë brandstofpryse het ‘n regstreekse uitwerking op skoolvervoer.

En laastens is daar nuus oor drie verdagtes wat in hegtenis geneem is omdat hulle voertuie by Tafelberg teiken. Die drie het glo gebruik gemaak van die Uber-diens om hul plan uit te voer.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Mcpherson, het ‘n oorsigbesoek gebring aan die polisiebarakke in Nelson Mandelabaai. Die plek is vuil en bouvallig en die minister het ‘n dringende aksieplan geëis.

En tweedens skryf die koerant Suid-Afrika is een van sewe lande wat belangstelling getoon het om die 2036 Olimpiese Somerspele aan te bied. Die ander lande is Indië, Katar, Duitsland, Hongarye, Turkye en Suid-Korea.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Zoeloe-koning Misuzulu kaZwelithini het ‘n ernstige waarskuwing gerig aan diegene wat daarop uit is om die monargie te destabiliseer deur middel van vals nuus en video’s wat op sosiale media versprei word.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Stad Windhoek se beskikbare kontantreserwe het van 268-miljoen-rand in Junie 2023 tot 1,1-miljard-rand in Junie vanjaar gegroei.

Dan skryf die koerant die voormalige burgemeester van Windhoek, Agnes Kafula, is in die Hoërhof in ’n eiendomsgeskil gewikkel met ’n familielid wat die betwiste eiendom bewoon.

En laastens is daar nuus oor ‘n groep internasionale veeartse wat Namibiese renosters kom onthoring het.