Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Junie 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig hoër brandstofkoste eis sy tol op Suid-Afrika se sakevertroue. Die koerant skryf RMB se hoofekonoom, Isaah Mhlanga, sê die BER-boukoste-indeks weerspieël ontwrigting, maar herstel is nie ontspoor nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die ANC het sy burgemeester in Madibeng, Douglas Maimane, herroep nadat hy na bewering 200-duisend-rand aangebied het vir opposisiepartye om die ANC te ondergrawe.

En tweedens skryf die koerant die DA is ontevrede omdat die ANC nie by ‘n Emfuleni-raadsvergadering opgedaag het nie. Die ANC het sy burgemeester, Sipho Radebe, ook onttrek en die raad is in chaos.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het die sluiting van alle skole in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrikte vandag en môre aangekondig. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ‘n ernstige vlak 8-weerwaarskuwing vir dele van die Wes-Kaap uitgereik het. Volgens die LUR vir Onderwys, David Maynier, is die besluit in belang van leerder- en onderwyserveiligheid geneem.

# Sowetan:

Berig oor die voorlegging van die Presidensie se begroting en president Cyril Ramaphosa se waarskuwing oor globale druk op die land se groei. Die koerant skryf mense kan dit nie meer bekostig om by die werk uit te kom nie.

# En The Citizen:

Skryf ‘n kernkragstasie by Thyspunt teen die Oos-Kaapse kus het opnuut kritiek deur aktiviste ontlok. Hulle is bekommerd oor die ekologiese uitwerking en negatiewe gevolg vir toerisme.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig twee verdagtes wat moontlik verbind kan word met die moord op die Marais-egpaar in die Krugerwildtuin is in Mosambiek in hegtenis geneem vir ondervraging. Die slagoffers se bakkie is verlede week in Mosambiek opgespoor.

Tweedens skryf die koerant lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys is omgekrap omdat die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, nie rassediskriminasie in hul toelatingsbeleid wou bespreek nie. Maynier sê die kwessie dien nou voor die hof.

En laastens is daar ook nuus oor die sluiting van skole vandag en môre.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar is talle vrae oor die moord op die 19-jarige Nhlamulo Sambo van Mosselbaai. Sy familie sê hy is tydens ‘n betoging vir ‘n immigrant aangesien en vermoor.

En tweedens skryf die koerant oor swaar reën wat van vandag vir die Oos-Kaap voorspel word.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Msunduzi-munisipaliteit het ‘n skuldverligtingsplan vir inwoners en sakeondernemings bekendgestel.

En tweedens waarsku die koerant teen gure weer later die week.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die sentrale bank van die land, Bank of Namibia, voorspel lae inflasie, maar trae ekonomiese groei.

Dan skryf die koerant die Onandjokwe Intermediêre Hospitaal het ’n mylpaal bereik met sy eerste heup- en knievervangingsoperasies, maar moet skadevergoeding opdok nadat ’n kind gesterf het.

En laastens is daar nuus oor die Switserse lugdiens Edelweiss wat die eerste keer geland het. Die redery kan jaarliks 15-duisend passasiers na Namibië bring.