Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Mei 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Reserwebank het die sleutelrentekoers tot sewe-persent verhoog namate inflasierisiko’s steeds toeneem. De koerant skryf die Monetêre Beleidskomitee was verdeeld oor die uitwerking van die stygende olie- en voedselkoste wat inflasieteikens bedreig.
# Mail & Guardian:
Skryf hoe die ANC vir Sisisi Tolashe uitgevang het. Die ANC-vroueliga se leierskap sal die naweek die lot van sy beleërde president verseël.
# Die Papier:
Doen ‘n deeglike uiteensetting van die jongste misdaadstatistiek en maak skokkende gevolgtrekkings. Naamlik dat die verkragting van jong kinders verdriedubbel het en die meeste voorvalle by kleuterskole en dagsorgsentrums voorkom. Van Januarie tot Maart vanjaar is 93 kinders landswyd so verkrag.
Die koerant berig ook die polisie se aanname dat misdaad afneem is nie korrek nie. In sommige gevalle word slegs 43-persent van misdade aangemeld.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die sekretaris-generaal van die SAKP, Solly Mapaila, sê die beplande Kongres van Linkse Bewegings het nie ten doel om ‘n party teen die ANC te stig nie. Hulle wil ‘n strategie ontwikkel wat werkers eerste stel.
En tweedens skryf die webblad die omstrede vroedvrou, Yolandé Maritz-Fouchee, is tot 23 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy op 14 aanklagte skuldig bevind is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die omstrede Afrikaanse aktivis Dan Roodt se Pro-Afrikaanse Aksiegroep gaan byna 4,2-miljoen-rand aan plaaslike en buitelandse valuta verloor weens die oortreding van valutabeheerregulasies.
Dan word berig amptenare by die Msunduzi-munisipaliteit staar doodsdreigemente in die gesig, wat lei tot onopgeloste tugstappe en verkwistende uitgawes.
En laastens is daar nuus oor die mynbou-entrepreneur wat die 100-miljoen-rand Lotto-boerpot gewen het.
# Sowetan:
Berig oor die plundery van die Tembisa-hospitaal. Die koerant skryf ‘n jong vrou moes van die Spesiale Ondersoekeenheid verneem haar identiteit is gesteel om ‘n fop-maatskappy te stig waarmee ‘n luukse herehuis van ses-miljoen rand gekoop is.
# En The Citizen:
Skryf Wayne Duvenage van Outa sê daar is op die oomblik ‘n gejaag aan die gang onder kader-raadslede om soveel as moontlik tenders te verkry indien hulle dalk in November uitgestem word. Hulle verwys na bewering daarna as “padkos”.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met ‘n uitvoerige onderhoud met die sosiale vlinder, Mel Viljoen, oor haar en haar man Peet se wedervaringe in die VSA. Hy is steeds in aanhouding daar.
En tweedens is daar nuus oor ‘n eksamen vir gevangenisbevelvoerders om standaarde te verbeter.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Vra die vraag: Hoeveel gaan dit kos om die gebreekte Baai te herstel?
En tweedens word berig ‘n bekende sakeman van Nelson Mandelabaai, John Mowbray, is op 79-jarige leeftyd oorlede.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die SABC is naarstigtelik op soek na sy TV-lisensiegeld.
En tweedens word berig die hoofsweep van die MK-party, Mmabatho Mokoena Zondi, word beskuldig dat sy onder valse voorwendsels betalings van werknemers geëis het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n maatskappy wat bande het met die seun van president Netumbo Nandi-Ndaitwah is ‘n sonkraglisensie van 612-miljoen-rand toegestaan, te midde van vrae oor politieke inmenging in die land se olie-, gas- en energiesektor.
En tweedens skryf die koerant ’n privaat speurmaatskappy moedig alle Namibiese werkgewers, sake-eienaars en werwingsbestuurders aan om behoorlike keuring te doen wanneer hulle nuwe werknemers aanstel.