Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Parlement het die LP’s benoem vir die ampsklagondersoek teen president Cyril Ramaphosa in verband met die Phala Phala-kwessie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die DA het sy registrasieveldtog in Johannesburg bekendgestel. Dit is daarop gemik om kiesers te registreer en seker te maak hulle is by die regte stemlokaal geregistreer.

En tweedens skryf die koerant daar is geen verdere voorkoms van die hantavirus in Suid-Afrika nie. Die enigste gevalle was die passasiers aan boord van die MV Hondius.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Limpopo sê hulle het veiligheidsmagte op hoë gereedheidsgrondslag geplaas om enige vorm van wetteloosheid te voorkom voor ‘n beplande protesaksie teen buitelandse burgers. Die provinsiale kommissaris van Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe, het ‘n streng waarskuwing uitgereik dat die polisie beslissend sal optree teen enige onwettige byeenkomste.

# Sowetan:

Berig al die leuens wat die sakeman Brown Mogotsi vertel het om die polisie te ontduik en om die bos te lei, kom nou in die hof na vore.

# En The Citizen:

Lei met: “PHALA PHALA CYRIL’S INDABA”. Die koerant skryf oudpresident Thabo Mbeki sê die ANC moet ophou inmeng in Ramaphosa se privaat sake.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ook oor die ampsklagkomitee wat Ramaphosa moet ondersoek. Die koerant verwys na die “ANC se jurie” en gee ‘n volledige uiteensetting oor die lede.

En tweedens is daar nuus oor die afsterwe van die negejarige Maurizio van Rooyen van Riebeek-Wes. Hy is aan ‘n chroniese niersiekte oorlede.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Oos-Kaapse netwerk van natuurreservate is onder toenemende druk, met chroniese onderbefondsing, verkrummelende infrastruktuur en toenemende stroperybedreigings wat die provinsie se bewaringspogings in gevaar stel.

En tweedens skryf die koerant met net ‘n paar maande oor voor die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November, sê inwoners van Nelson Mandelabaai, dienslewering gaan daagliks agteruit.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf een van die land se voorste jokkies, S’manga Khumalo, is skuldig bevind op drie aanklagte van korrupsie, omkopery en resiesbedrog. Sy toekoms sal op 29 Mei bepaal word.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ’n voormalige speurder van Walvisbaai, Jafet Simon, is vir twee jaar tronk toe gestuur vir sy rol in ’n omkoopskema ter waarde van 60-duisend-rand.

 En tweedens skryf die koerant motoriste wat na Suid-Afrika reis, sal binnekort aan nuwe doeanevereistes moet voldoen met verpligte tydelike invoerverklarings vir hul voertuie.