Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en die VSA het met samesprekings begin wat daarop gemik is om ‘n dreigende 30-persent-tarief op Suid-Afrikaanse uitvoere te verminder. Die koerant skryf die regering is egter besig om planne te beraam om sakeondernemings en arbeid teen die hoë tariewe te beskerm wanneer dit op 1 Augustus van krag word.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei met dieselfde onderwerp as Business Day. Ramaphosa het in die Parlement diegene gekritiseer wat Suid-Afrika in ‘n swak lig in die buiteland stel.
Tweedens is daar nuus oor ‘n klopjag by die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad waar beslag gelê is op selfone, TV-stelle en KFC-hoender.
En laastens word berig oor ‘n man van Groenpunt in Kaapstad, Xanpher Krige, wat met ‘n tuinslang ingespring het toe sy buurvrou se huis aan die brand slaan.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het ná haar uitlating oor ‘n staatsgreep Suid-Afrikaners verseker dat die land veilig is en het die moontlikheid van onrus in die land uitgesluit.
# Sowetan:
Berig die DA se woordvoerder oor Buitelandse Sake, Emma Powell wat die inligting oor die Suid-Afrikaanse gesant Mcebisi Jonas bekend gemaak het, word beskuldig van ‘n teen-Suid-Afrikaanse veldtog.
# En The Citizen:
Skryf hoewel daar moontlik geen onmiddellike bedreiging van ‘n staatsgreep in die land is nie, sit Suid-Afrika op ‘n kruitvat van armoede, ongelykheid en werkloosheid.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Presidensie se terloopse stelling oor die moontlikheid van ‘n staatsgreep in Suid-Afrika is deur baie kenners as skokkend bestempel. Die algemene gevoel is dat daar nou deursigtigheid oor die stelling moet wees.
En tweedens skryf die koerant oor die moontlike staking van FlySafair se vlieëniers wat tot 150 vlugte per dag kan raak. Die lugdiens sê egter daar is nog geen uitsluitsel oor ‘n beplande staking vir volgende week nie.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig daar is talle ANC-vergaderings wat in chaos geëindig het en nou van nuuts af gehou moet word.
En tweedens word berig oor gewelddadige betogings nadat die Buffalo City-munisipaliteit onwettige kragverbindings afgesny het.
KWAZULU-NATAL:
# Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar word beplan om meer vlugte in Pietermaritzburg te laat land.
En skryf oor die VSA wat misdadigers Eswatini toe gestuur het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese weermag het bevestig sy brandstofverskaffingskontrak met die sukkelende Enercon Namibia is nie meer van krag nie, ná die maatskappy se finansiële ineenstorting. Hy kry nou brandstof by August 26.
En tweedens skryf die koerant boere en gemeenskapslede het ’n klagskrif aan die Rondgaande Hof in Aroab oorhandig toe die 19-jarige Joslen Jean Otto op aanklagte van verkragting, diefstal en dwarsboming van die gereg verskyn het.