Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Konstitusionele Hof het beslis die NGV-wet se bepaling om te besluit waar dokters mag werk is ongrondwetlik. Die Departement van Gesondheid sê egter dit sal geen regstreekse uitwerking hê op Nasionale Gesondheidsversekering nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens die Gautengse regering wil die finansiële administrasie by skole desentraliseer. Die LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê skole kan dan projekte saam met die privaat sektor aanpak.

En tweedens skryf die webblad ‘n Amerikaner wat in die Demokratiese Republiek die Kongo werk is ook met Ebola gediagnoseer. Die dodetal staan nou reeds op 100.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die familie van die Suid-Afrikaanse humanitêre ambassadeur, Faizel Moosa, sê hy is deur Israelse owerhede onderskep en word aangehou terwyl hy deelgeneem het aan ‘n burgerlike flottielje wat humanitêre hulp na Gaza vervoer het. Moosa was deel van die Global Sumūd Flotilla wat noodsaaklike voorrade wou lewer en die aandag vestig op die voortdurende blokkering van Gaza.

# Sowetan:

Berig oor Eskom se dreigement om Johannesburg af te skakel indien hy nie teen 8 Julie 5,2-miljard-rand se skuld vereffen nie. Daar bestaan groot kommer oor die uitwerking op ondernemings en inwoners.

# En The Citizen:

Lei met: “HUGE BLOW FOR NHI”. Die koerant skryf ook oor die Konstitusionele Hof se beslissing.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ook oor die terugslag vir Nasionale Gesondheidsversekering nadat die Konstitusionele Hof beslis het die sogenaamde behoeftesertifikate in die NGV-wet is ongrondwetlik. Die sertifikate sou bepaal waar dokters mag praktiseer.

En tweedens is daar nuus oor die stand van Wes-Kaapse damme. Van die grootste damme se vlakke het met tot 20-persent gestyg.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die spertyd vir die geleentheid om kommentaar en besware in te dien teen Eskom se voorgestelde kernkragontwikkeling in Thyspunt kom vinnig nader. Dit is vroeër uitgestel van vyf tot 25 Mei.

En tweedens skryf die koerant Knysna is nieteenstaande die goeie reën oor die gebied steeds bekommerd dat die water sal opraak.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oor probleme wat ondervind word met die plaaslike spazawinkel-projek en oor die voortdurende rioolstortingskrisis in die Durbanse baai.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die ministerie van Gesondheid sê hy is bewus van die frustrasie van die publiek weens die ernstige tekorte aan veral noodsaaklike medisyne.

En tweedens skryf die koerant die Namibië Openbare Passasiersvervoervereniging se noordelike tak vra vir die volle instelling en afdwinging van daktekens vir taxi’s as deel van pogings om onwettige taxi’s te stuit.