Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die werkloosheidsyfer sal na verwagting die week verder styg. Daar is ook ‘n swak vertoning deur die vervaardigingsektor in Maart.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig een van die Franse passasiers wat van die MV Hondius ontruim is, toon nou ook simptome van die hantavirus. Die Franse premier, Sebastién Lecornu, sê al vyf passasiers is onmiddellik onder streng kwarantyn geplaas.

En tweedens skryf die webblad ‘n tweede kouefront is op pad en talle skole in die Wes-Kaap is gesluit.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf interne verdeeldheid het in die ANC ontstaan met mededingende faksies wat president Cyril Ramaphosa se bedanking eis na die Konstitusionele Hof se uitspraak.

En tweedens berig die koerant ‘n konstruksiewerker is gister op ‘n bouperseel in Durban se middestad gered nadat hy onder ‘n muur wat omgeval het, vasgekeer was. Nog vier werkers is in die voorval beseer.

# Sowetan:

Berig oor die arrestasies van generaals-majoor Feroz Khan en Ebrahim Kadwa. Hulle is onderskeidelik die hoofde van teen-intelligensie en die Gautengse Valke. Die koerant skryf hulle is in hegtenis geneem vir die handel in edelmetale en inmenging in ‘n polisieondersoek.

# En The Citizen:

Lei met: “PHALA PHALA: END OF GNU?” Die koerant skryf die kwessie is die ernstigste uitdaging wat die ANC nog in die gesig moes staar.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig breedvoerig oor die gure weer wat in die Wes-Kaap verwag word. Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê alle openbare gewone en spesiale-behoefte-skole in Kringe 3, 4, 5 en 6 sal gesluit wees. Intussen bly die 11 Karoo-skole wat verlede week gesluit is ook toe as gevolg van skade aan die infrastruktuur.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig hoewel die meeste van die Oos-Kaapse damme vol is, is daar steeds ‘n reusegebrek aan waterbestuur.

En tweedens skryf die koerant daar kan stappe gedoen word teen die Oos-Kaapse regering indien hy nie betalings aan munisipaliteite deurvoer nie.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die nuwe DA-leier in KwaZulu-Natal, Sithembiso Ngema, het onderneem om die party te laat groei en kiesers te werf vir die verkiesing later vanjaar.

En tweedens berig die koerant ook oor Ramaphosa se toekoms.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese burgers uit die Omusatistreek wat daarvan verdink word dat hulle in 2020 ‘n reusebedrag in buitelandse valuta van Ramaphosa se Phala Phala-plaas gesteel het, kan hom nou sy presidentskap kos.