Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika is gereed om die voorkoms van xenofobie in Suid-Afrika met die Afrika-Unie te bespreek. Die koerant skryf video’s van betogings uit Suid-Afrika bekommer Afrika-leiers.

# Mail & Guardian:

Skryf vandag kan president Cyril Ramaphosa se lewe ingrypend verander indien die Konstitusionele Hof teen hom beslis in die omstrede Phala Phala-saak.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het in die Parlement gesê Suid-Afrika het geen planne om handelsbande met Israel op te skort nie.

En tweedens skryf die koerant die Madlanga-kommissie het gehoor daar was geen veiligheidsmaatreëls by die Valke se kantoor in Port Shepstone, KwaZulu-Natal, waar 200-miljoen-rand se kokaïen in 2021 gesteel is nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf oor die landswye gure weersomstandighede en veral die uitwerking van die oorstromings wat daartoe gelei het dat talle paaie gesluit en in sommige gevalle so beskadig is dat dit onbegaanbaar is. Dit belemmer ook die reddingswerk wat gedoen word.

# Sowetan:

Berig die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, is in ‘n penarie nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, reuse-salarisverhogings in die stad gekeer het. Die koerant skryf Morero sal vandag by die Tesourie moet pleit nadat Samwu met stakings gedreig het.

# En The Citizen:

Skryf dit het die regering agt dae, waarin die hantavirus vrylik kon versprei, geneem om te begin met die nasporing van die passasiers van die vliegtuig wat die twee persone met die virus onder lede na Suid-Afrika gebring het.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die nasionale Departement van Gesondheid het bevestig dat vier mense in die Wes-Kaap moontlik die hantavirus onder lede het. Meer besonderhede is nie bekend gemaak nie. Die WGO sê die uitbreking is ernstig maar die kanse vir oordrag skraal.

En tweedens skryf die koerant oor ‘n pa en twee dogters wat in ‘n e-taxi op die R-300 na Delft aangeval en beroof is. Nadat hulle gered is, het ‘n voertuig in hulle vasgery en Randall Willemse en sy twee minderjarige dogters moes hospitaalbehandeling ontvang.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig drie polisiekonstabels is dood nadat ‘n manlike beampte na bewering met geweld toegang tot ‘n huis verkry het waar sy voormalige meisie, ook ‘n dienende konstabel, saam met ‘n ander manlike kollega was. Al drie die beamptes is in ‘n skietgeveg dood.

En tweedens berig die koerant ook breedvoerig oor die oorstromings in die Oos-Kaap. Daar word spesifiek gefokus op die lot van die ontheemdes.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ouers en leerders het betoog teen die aanstelling van Llewelyn Braging as hoof van die Nottingham Road Primary School. Hy is voorheen by die Merchiston Preparatory School aangekla van seksuele aanranding, maar vygespreek.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Namibië se nuwe Wet op die Finansiële Sektor gaan die werking van pensioenfondse ingrypend hervorm.

Dan skryf die koerant die stygende brandstofpryse beteken pendelaars gaan ook meer vir taxi- en bustariewe moet opdok.

En laastens word berig by die Waterberg-oord is personeel genoop om die linne nou met die hand te was nadat Namibia Wildlife Resorts besluit het om die wasmasjienverskaffer oornag te verander.