Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie, Patrick Dlamini, het aan die Parlement gesê die korporasie het 350-miljard-rand se bateverlies gely weens die VSA-Iran-oorlog.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig Johannesburg is vir praktiese doeleindes bankrot. Die stad skuld 25,2-miljard-rand en het slegs kontantreserwes van 3,9-miljard-rand. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana sê oortredings van finansiële wetgewing het grootliks tot die omstandighede bygedra.

Dan skryf die webblad die portefeuljekomitee oor Staatsdiens en Administrasie soek dringend antwoorde oor die sowat 800-miljoen-rand wat jaarliks aan 670 geskorste staatsamptenare betaal word.

En laastens word berig president Donald Trump het Iran opnuut gewaarsku om ‘n vredesooreenkoms te aanvaar of verdere aanvalle te trotseer.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf môre is D-dag vir president Cyril Ramaphosa wanneer die Konstitusionele Hof uitspraak lewer in die Phala Phala-saak. Dit kan uitsluitsel gee oor ‘n ampsklag teen die president.

En tweedens word berig Suid-Afrika het internasionale lof ontvang vir sy hantering van die persone wat met die Hantavirus besmet is.

# Sowetan:

Berig die gemeenskapstoiletprojek van die Gautengse regering in Evaton, Emfuleni, het lelik skeefgeloop. Die eenhede van sowat 290-duisend-rand per eenheid is teen 800-duisend-rand elk opgerig en verskaf tans slegs twee toilette per 20 families.

# En The Citizen:

Vra of die regering voorbereid is om ‘n uitbreking van die Hantavirus in Suid-Afrika te hanteer.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die erge storm wat die Tuinroete sedert gister teister en tot die dood van ‘n 37-jarige werker van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Lauren Fredericks, gelei het. ‘n Boom het in Knysna op haar motor geval. Teen gistermiddag het daar reeds 235 millimeter reën oor die gebied uitgesak. Volgens die Weerdiens sal die omstandighede van vandag af begin verbeter.

En tweedens skryf die koerant die omstrede sekretaris van die Parlement, Xolile George, wat na bewering vyf-miljoen-rand verdien, gaan volgens berigte uit sy huis gesit word weens wanbetaling.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ‘n ondersoek het aan die lig gebring dat die skorsing van die stadsbestuurder, Noxolo Nqwazi, die Nelson Mandelabaai-metro sowat 6,7-miljoen-rand gekos het.

En tweedens skryf die koerant ook oor die stormskade teen die Suid- en Oos-Kaapse kus met ‘n fotobeeld van die gebied.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ‘n egpaar van Pietermaritzburg wat ‘n crèche bedryf, sê hulle is gelukkig om te lewe nadat hulle beroof en ontvoer is om verkoop te word aan ‘n tradisionele geneser wat hul harte wou hê.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namibiese regering berei voor om Hoërhof toe te gaan om ’n winsgewende konsessieooreenkoms van 25 jaar vir een van die land se mees ikoniese toeristebestemmings tot niet te verklaar. Die Prokureur-generaal sê die regering het ‘n onwettige konsessie vir Sossusvlei toegestaan.

En tweedens skryf die koerant ten spyte daarvan dat die medikasie agter geslote deure in die staat se gesondheidsgeriewe gehou word, vind aborsieverwante medikasie glo sy pad na Namibië se swartmark.