Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, vra dat diplomatieke betrekkinge met die VSA herstel word. Die Wes-Kaapse uitvoere na die VSA het met 16,2-persent gedaal en die verhoogde tariewe en verlies aan handelsvoordele het veral ‘n uitwerking op die landbou- en vervaardigingsektore.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, wat die tersydestelling van die aanklagte teen die geskorste polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, teenstaan, sê Masemola kon die polisie miljoene rand gespaar het indien hy tydig op die Medicare24-tender gereageer het.
En tweedens skryf die webblad die afgedankte adjunkhoof van die polisie se misdaadintelligensie-afdeling, generaal-majoor Feroz Khan, gaan uiteindelik virtueel voor die Madlanga-kommissie getuig.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf in hierdie stadium lyk dit onwaarskynlik dat die regering met tydelike belastingverligtingsmaatreëls sal ingryp om die brandstofskok in Oktober te versag. Die regering het in April vanjaar die algemene brandstofheffing vir twee maande met minstens drie-rand per liter verlaag. Die koerant berig die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, het gesê daar is geen onmiddellike planne om huishoudings en sakeondernemings teen die stygende brandstofkoste te beskerm nie.
# Sowetan:
Berig ‘n weduwee en haar drie medepligtiges is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op haar taxibaas-eggenoot, Aubrey Mfolo. Die koerant skryf Lucky Kudumane, Bafana Mototsoe, Sfiso Manana en Rebecca Mfolo is in die Hooggeregshof in Pretoria op aanklagte van moord skuldig bevind, nadat hulle saamgesweer het om Mfolo se man by ‘n begraafplaas in Noordwes dood te skiet.
# En The Citizen:
Skryf die seksskandaal in die KwaZulu-Natalse Middelande is besig om uit te kring. Daar het nou reeds 60 vermeende slagoffers, sommige slegs elf jaar oud, na vore gekom. In een voorval het ‘n 15-jarige skoolmeisie van Hilton vertel hoe sy reeds vir jare seksueel voorberei is deur ‘n man.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die dood van die 31-jarige rugbyspeler, Dewald ‘Golden Boy’ Naudé, oorspronklik van Wellington wat Saterdag in Hongkong dood is. Die familie sê hulle weet nog nie wat die oorsaak van sy dood was nie. Hy word oorleef deur sy Britse vrou, Brumilda.
En tweedens skryf die koerant die SANW het die afgelope vyf jaar glo 2,4-miljard-rand aan vlugte bestee.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die lastersake waarby die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, betrokke is, stuur nou daarop af dat Lobishe se bates bevries word om voorsiening te maak vir die regskoste.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n prokureur van die Baai wat beweer ‘n polisiebeampte het hom aangerand.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n 39-jarige man wat met vervalste kwalifikasies by die Northdale-hospitaal as mediese dokter begin werk het, is vasgetrek.
En tweedens word berig Bronek Masojada is die tweede oudleerder van die Durban High School wat as Lord Mayor van Londen verkies is. Hy sal die rol vervul van internasionale ambassadeur vir Brittanje se finansiële en professionele dienstesektor en moet nie verwar word met die burgemeester van Londen nie; laasgenoemde is steeds Sadiq Khan.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese regering beraam sowat 190,19-miljoen-rand gaan benodig word vir die inperking om die verspreiding van bek-en-klouseer hok te slaan. Boere is ook gewaarsku om geen stappe te doen sonder die toestemming van die Direktoraat van Veeartsenydienste nie.
Tweedens skryf die koerant tydens Namibië en Suid-Afrika se eerste gesamentlike visserypatrollie op see is beslag gelê op sowat 32-ton vis.
En laastens is daar nuus oor die Duitse ruimtevaarder, doktor Matthias Maurer, wat tans Namibiese skole besoek.