Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Mei 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ‘n fout in die dieselheffingaanpassing het volgens die regering daartoe gelei dat ‘n opgeblase aanvanklike dieselprysaankondiging gedoen is. Die prysstyging is aangekondig as ses-rand-19-sent per liter terwyl dit vyf-rand-27-sent moet wees.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die uitbreking van die Hantavirus aan boord van die passasiersboot MV Hondius op pad na Kaap Verde. Die koerant skryf die Wêreldgesondheidsorganisasie stel nou ondersoek in of die virus tussen mense oorgedra is. Daar is ook ‘n soektog na die passasiers op ‘n vliegtuig na Suid-Afrika met minstens twee van die slagoffers aan boord.
Dan skryf die blad ook oor die regering se foutiewe afkondiging van die dieselprys. Die regering sê as jy met syfers werk kan enigiets verkeerd gaan.
En laastens word berig die MK-party gaan voort met regstappe teen die OVK oor beweerde stemknoeiery, ondanks gesprekke wat as konstruktief bestempel is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die verkeerde brandstofprys wat bekend gemaak is en die oordrag van die Hantavirus.
# Sowetan:
Berig Suid-Afrika is op hoë gereedheidsgrondslag om die gure weer wat landswyd voorspel is te hanteer. Die koerant skryf nasionale noodspanne is op bystand om te help tydens oorstromings en ander uiterste omstandighede.
# En The Citizen:
Skryf parlementslede is in die Konstitusionele Hof beskuldig dat hulle nie die vereiste aandag aan die Nasionale Gesondheidsversekeringwetsontwerp bestee het nie. Daar is veral nie na die bekostigbaarheid van NGV gekyk nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde volledige Netwerk24-berig met grafika oor die Hantavirus-uitbreking en tweedens word ook berig oor die verkeerde dieselprys.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaapse LUR vir Korporatiewe Bestuur en Tradisionele Sake, Zolile Williams, sê die munisipaliteit moet aanvaar dat die stadsbestuurder, Noxolo Nqwazi, se skorsing verstryk en dat sy weer aangestel moet word.
En tweedens skryf die koerant die brandstofkrisis kon nie op ‘n slegter tyd vir Nelson Mandelabaai gekom het nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die KwaZulu-Natalse Middelland kan deedae spog met van die beste skole ter wêreld wat selfs op die internasionale top-100-lys verskyn.
En tweedens word ook berig oor die uitbreking van die Hantavirus.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ontstoke lede van die Namibia Health Plan sê die mediese fonds se oorgang na ’n nuwe administrateur is deurspek met growwe nalatige optrede.
Dan skryf die koerant egpare wat in die skeihof beland, moet ten minste 15-duisend-rand opdok, selfs al is hul skeisaak onbetwis.
En laastens word berig agt van die 22 aansoeke vir die skoolhoofpos van Windhoek Hoërskool, word vermis.