Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die redakteur van die Sunday Times, Makhudu Sefara, is op spesiale verlof geplaas nadat die Spesiale Ondersoekeenheid onthul het dat ‘n maatskappy waarvan hy die enigste direkteur was, verbind word met die wanbesteding van openbare fondse van die Nasionale Loterykommissie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die afsterwe van die Suid-Afrikaanse ikoon, Mimi Coertse. Die webblad skryf oor haar roemryke internasionale loopbaan waar sy as ambassadeur vir Suid-Afrika naam gemaak het op wêreld-verhoë.
En tweedens word berig die ministeries van Finansies en Minerale en Petroleum Hulpbronne het ‘n verlenging van die tydelike brandstofheffingverligting aangekondig om verbruikers te beskerm teen stygende brandstofpryse wat deur die voortgesette Midde-Oosterse konflik gedryf word.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die redakteur van die Sunday Times wat op spesiale verlof geplaas is nadat hy by ‘n ondersoek van die Spesiale Ondersoekeenheid betrek is.
En tweedens berig die koerant die polisie en Lughawensmaatskappy het nog twee dwelmmuile by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem. Dit bring die totale aantal dwelmsmokkelaars oor die afgelope drie dae op vier te staan.
# Sowetan:
Berig die familie van Sandra Mamaila wat in die ongeluk omgekom het waarby die stadsbestuurder van Ekurhuleni, Kagiso Lerutla, betrokke was, sê hulle soek geregtigheid en tronkstraf vir die skuldige.
# En The Citizen:
Lei met: “JOZI’S VICIOUS DEBT CYCLE”. Die koerant skryf Johannesburg maak staat op lenings om te oorleef in plaas van die insameling van sy inwoners se dienstegeld. Volgens kenners kan die model nie oorleef nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Mini Coertse en staan feitlik sy hele voorblad af aan die Suid-Afrikaanse ikoon.
En tweedens word berig besoekers aan die Kaapstadse Internasionale Lughawe word gewaarsku teen ‘n groep dansende jong mans wat mense beroof.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die afgelope langnaweek in Nelson Mandelabaai is gekenmerk deur geweld en bloedvergieting.
En tweedens skryf die koerant ‘n herwinningsaanleg wat verslaafdes tydens hul herstelproses ondersteun, is deur ‘n brand in puin gelê.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n ondersoek het aan die lig gebring dat selfs laerskoolkinders damprook.
En berig die burgemeester van uMNgeni, Chris Pappas, gaan volgens berigte sy vroeëre besluit om uit die politiek te tree heroorweeg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig lede van die staat se mediese fonds het sedert 1 April onbeperkte voordele vir hospitalisasie in staatshospitale, maar word beperk tot 350-duisend-rand per begunstigde en 700-duisend-rand per familie sou hulle in ’n private hospitaal opgeneem word.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese polisie in die Kavango-Oosstreek sê hulle wag op forensiese uitslae in ’n ondersoek na ’n vermeende reeksverkragter wat vroue in Rundu terroriseer.