Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het die nasionale kommissaris van polisie, Fannie Masemola, geskors en luitenant-generaal Puleng Dimpane aangestel as waarnemende kommissaris.
# Mail & Guardian:
Skryf daar is talle vrae oor ‘n moontlik verdagte regstellende aksie-transaksie wat deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie aangegaan is.
# Die Papier:
Berig ook oor Masemola se skorsing. Die koerant skryf die polisiekenner, doktor Johan Burger, sê Ramaphosa moes liewer ‘n raad van ondersoek aangestel het om vas te stel of Masemola wel by misdaad betrek word. Die kriminoloog, doktor Guy Lamb sê die raad kan die kommissaris se diens beëindig.
Tweedens het die koerant met Cilliers Brink van die DA en Willie Spies van die VF Plus gepraat wat beide burgemeesterskandidate in Tshwane is.
En laastens word berig oor padwoede en die beste en veiligste optrede in sulke gevalle.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi wat op verskeie aanklagte waaronder bedrog en korrupsie in die hof verskyn, sê dit is absurd dat 400-duisend-rand betaal is om ‘n verkeersoortreding te verbloem. Hy het verwys na ‘n klag teen die stadsbestuurder, Kagiso Lerutla, wat na bewering iemand betaal het om namens hom in die hof te verskyn.
En tweedens skryf die webblad die sekretaris-generaal van die SAKP, Solly Mapaila, sê hulle kan moontlik ‘n tuiste in die MK-party of EFF vind.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die skorsing van Masemola. Die koerant berig die politieke ontleder professor Sipho Seepe sê Ramaphosa is met die skorsing beginselvas in sy optrede om prosesse hul gang te laat gaan. Hy sê dit laat hom toe om niks te doen nie en te wag vir optrede deur die kommissie of ander liggaam.
# Sowetan:
Berig ook oor die geskorste Ekurhuleni-stadsbestuurder wat in die Boksburg-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie. Die koerant skryf die staat voer aan Lerutla het selfs iemand 10-duisend-rand betaal om ‘n liggaam van ‘n noodlottige ongelukstoneel te verwyder.
# En The Citizen:
Skryf geen party gaan waarskynlik ‘n volstrekte meerderheid behaal in vanjaar se plaaslikeregeringsverkiesing nie en volgens kenners kan die daaropvolgende koalisie-onderhandelinge maklik in chaos ontaard.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook volledig oor die skorsing van Fannie Masemola. Die koerant skryf hy is ná Selebi, Cele, Phiyega en Sitole die vyfde kommissaris om geskors te word.
En tweedens is daar nuus oor ‘n Matie wat na ‘n nag op ‘n koue rivieroewer gered is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar bestaan ernstige kommer oor die toestand van die reservoir in Despatch. Die probleem word deels veroorsaak deur gereelde kragonderbrekings by die Nooitgedacht-watersuiweringsaanleg wat water aan die reservoir moet voorsien.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n deel van die N3 wat verkeer na Durban voer sal vir die volgende twee jaar gesluit word vir opgradering. Gedurende hierdie tydperk sal bestaande Durban-rigtingverkeer in ‘n teenstroom-rigting na die verbrede noordwaartse rybaan oorgeskakel word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig slegs 49 uit die een-duisend-351 gevangenes wat die afgelope drie jaar op parool vrygelaat is, het weer oortree.
En tweedens skryf die koerant werknemers van Meatco het gister weer Windhoek se strate ingevaar om te betoog.