Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die bestuurshoof van Eskom, Dan Marokane, sê die elektrisiteitsvoorsiener het die duurder dieselpryse as gevolg van die Midde-Oosterse konflik vrygespring deur van bestaande voorraad gebruik te maak en die gebruik van diesel in te kort. Hy waarsku egter dit kan nie onbepaald voortduur nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA gaan ‘n strafregtelike saak aanhangig maak teen die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe. Dit hou verband met haar ontvangs van onverklaarde nutsvoertuie van Chinese amptenare. Tolashe het aanvanklik gesê die voertuie is vir die ANC-vroueliga, maar dit het intussen aan die lig gekom dat haar kinders na bewering die voertuie gebruik.
En tweedens skryf die webblad oor die gedenkdiens vir die bekroonde TV-ster, Johnny Davids, wat in die Friend of God-kerk in Goodwood gehou is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die ANC het die terugkeer van Senzo Mchunu vir eers op die lange baan geskuif aangesien die party nog nie sy aanstelling in die NUK bekragtig het nie.
En tweedens berig die koerant die Johannesburgse metropolisie het meer as 80 taxi’s geskut.
# Sowetan:
Berig oor die Dulcie September Primary School in Rabierif waar die ouers die skool gesluit het weens gevaarlike toestande vir leerders. Meer as twee-duisend kinders sit gevolglik tuis. Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy sal binne twee weke tydelike klaskamers oprig.
# En The Citizen:
Skryf die regering oorweeg tans om nog ‘n reddingsboei van belastingbetalergeld vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens te gee. Volgens kenners word daar egter nie aandag geskenk aan die werklike probleme nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die gespanne verhouding tussen die ANC en SAKP nadat laasgenoemde besluit het om onafhanklik aan vanjaar se verkiesing deel te neem. Die Kommunistiese Party het gewaarsku dat hy nie sal toelaat dat die ANC hom boelie nie. Die ANC se aankondiging die week oor ‘n spertyd vir SAKP-lede om te sê of hulle vir die ANC gaan stemme werf, het bygedra tot die spanning.
En tweedens skryf die koerant daar is goeie nuus vir die winter. Eskom het aangekondig hy voorsien geen beurtkrag nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die videomateriaal van die speaker van die Bitou munisipaliteit, Mavis Busakwe, wat ‘n vuurwapen rondswaai tydens ‘n openbare seremonie, maak steeds opslae en daar is verskeie oproepe vir ‘n dringende ondersoek.
En tweedens skryf die koerant hoewel Makhanda in ‘n haglike toestand is, sal die Nasionale Kunstefees steeds voortgaan.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig daar bestaan ernstige kommer oor die werksaamhede van Operation Dudula. Die groep teiken immigrante uit Afrika en is na bewering skuldig aan bos-reg en deel hul eie straf uit.
En tweedens skryf die koerant ook oor die spanning tussen die ANC en die SAKP. Vandag is D-dag vir die ooreenkoms tussen die alliansievennote.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Europese maatskappy Alda Seafood Holdings het ’n amptelike verskoning uitgereik oor sy beweerde rol in Namibië se Fishrot-skandaal wat tot werksverliese en die misbruik van Namibië se visserybronne bygedra het.
Tweedens skryf die koerant daar word ondersoek ingestel na die werksaamhede en doeltreffendheid van die Namibië Opleidingsowerheid.
En laastens is daar nuus oor Marientallers se hartseer na die dood van hul jong hokkiekaptein, die 13-jarige Kondjeni Beukes.