Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die kommissaris van polisie, generaal Fannie Masemola, is aangekla van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur in ‘n tender van 360-miljoen-rand. Die staat voer growwe nalatigheid aan asook die versuim om onreëlmatige betalings aan Medicare24 te stop.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ActionSA het ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien teen die polisiehoof van Mpumalanga, luitenant-generaal Daphney Manamela, nadat die korrupsiebewerings teen haar aan die lig gekom het.
Voorts skryf die webblad oor die hofverskyning van generaal Masemola. Hy het teenoor joernaliste opgemerk hy is onskuldig en hy moet eerder besig wees om georganiseerde misdaad te beveg.
En laastens is daar nuus oor die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg en sy vrou Dezi. Daar is nou nog klagtes by die klagstaat gevoeg wat dit op 127 aanklagte te staan bring.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ses roubeklaers van Limpopo is dood en tientalle het ernstig siek geword nadat hulle kos geëet het wat by ‘n begrafnis in Mmotong-wa-Bogobe, buite Polokwane in Limpopo, bedien is. Na wat berig word is ten minste 74 mense in die hospitaal in Lebowakgomo opgeneem.
# Sowetan:
Berig die sakeman Siyabonga Nkosi het Eskom na bewering uit sowat 76-miljoen-rand bedrieg. Hy het na bewering 50-duisend-rand ontvang vir ‘n skakelaar wat in werklikheid 450-rand kos. Die Spesiale Ondersoekeenheid het beslag gelê op 17 huise en sewe luukse motors.
# En The Citizen:
Skryf die geskorste Seta-hoof, Nokukhanya Mafahla, het in die Arbeidshof aangevoer dat Numbelo, die eggenoot van die voormalige minster van Arbeid, Thulas Nxesi, alle blaam verkeerdelik op haar plaas. Dit staan in verband met ‘n befondsingskandaal van 630-miljoen-rand.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die uitgebreide klagstaat teen Louis en Dezi Liebenberg.
En tweedens skryf die koerant oor die gedenkdiens vir die Stormers se spanbestuurder, Chippie Solomon.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die verskuiwing van die mangaan-aanleg is nou uitgestel tot 2030.
En tweedens skryf die koerant ‘n raadslid het uitgevaar oor rondloper beeste in stedelike gebiede.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor generaal Fannie Masemola se hofverskyning en dan berig die koerant dat bek-en-klouseer steeds versprei in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar is ‘n ernstige tekort aan huisvesting vir slagoffers van geslagsgeweld. Daar is tans landswyd slegs agt huise beskikbaar.
En tweedens skryf die koerant Jandré Dippenaar wat tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is nadat drie Namibiërs en drie Duitse toeriste in ‘n ongeluk dood is wat hy veroorsaak het, veg in die Hoogste Hof steeds voort vir sy vryheid.