Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 April 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die staatskapingstender ten bedrae van 2,5-miljard-rand waarby die voormalige bestuurshoof van Eskom, Matshela Koko, betrek word, word in die hof getoets. Koko sê daar word vals klagtes teen hom ingedien en die betrokkenheid van die ABB-groep moet ondersoek word.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig oor die eerste hofverskyning van die adjunkhoof van die Ekurhuleni metropolisie, Julius Mkhwanazi, en die stadsbestuurder van die metro, Kagiso Lerutla. Hulle is deur die polisietaakspan van die Madlanga-kommissie op aanklagte van korrupsie, bedrog en dwarsboming van die gereg in hegtenis geneem.

Tweedens skryf die webblad oor ‘n padwoedevoorval in Emmarentia die naweek waartydens ‘n pa voor sy twee kinders doodgeskiet en die ma gewond is. ‘n 58-jarige man is gister in hegtenis geneem.

En laastens is daar nuus oor die sanger Bredan Peyper wat glo verloof is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf ook oor die padwoedevoorval in Barry Hertzog-rylaan in Emmarentia, Johannesburg.

En tweedens berig die koerant die Emfuleni-munisipaliteit betaal werknemers 24-miljoen-rand om by die huis te sit.

# Sowetan:

Berig Kagiso Lerutla, wat die week in hegtenis geneem is, het na bewering ‘n dubbelganger gebruik om namens hom in die hof te verskyn na ‘n spoedoortreding.

# En The Citizen:

Lei met: “SCHOOLS VAPING CRISIS”. Die koerant skryf ‘n studie wat in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal gepubliseer is, dui daarop dat damprook in skole besig is om ernstig toe te neem wat talle gesondheidsrisiko’s inhou.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die reënweer die afgelope naweek in die Wes-Kaap het verskeie oorstromings veroorsaak. Die informele nedersettings het die ergste deurgeloop omdat daar volgens die hoof van rampbestuur en reddingsdienste, Colin Deiner, geen beplanning in die gebiede gedoen word nie.

En tweedens skryf die koerant die Intercape-busdiens moet vergoeding betaal nadat ‘n bejaarde van die Vrystaat deur die bagasiedeur van ‘n bus beseer is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ‘n polisiebeampte word ondersoek weens die beweerde verkragting van ‘n minderjarige.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oudpresident Jacob Zuma wil hê vanjaar se verkiesing moet uitgestel word totdat die MK-party se dispuut oor die 2024-verkiesing opgelos is. Die klag hou verband met die beweerde manipulasie van die verkiesing.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ’n kernkragaanleg vir Namibië lê volgens energiekenners nog in die verre toekoms. Dit sal volgens kenners sowat een-miljard Amerikaanse dollar kos. Namibië is vir tot 60-persent van sy krag afhanklik van Suid-Afrika.

 En tweedens skryf die koerant Gobabis-inwoners kla oor ’n rioollekkasie wat vir maande nie herstel word nie.