Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 April 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Sassa het ‘n ernstige waarskuwing gerig oor die toenemende bedrog met die uitbetaling van toelaes. Die agentskap sê hy sal streng optree om weerloses te beskerm.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die leier van die DA, Geordin Hill-Lewis, sê twee senior lede van die party, Leon Schreiber en Ryan Coetzee, sal toesig hou oor die party se parlementêre verantwoordelikhede terwyl hy voortgaan as burgemeester van Kaapstad.

Dan skryf die webblad die 41-jarige Leano Vergotine van Ceres het in die hof aangevoer sy vermeende verkragting van nagenoeg 17 seuns het met hul toestemming plaasgevind.

En laastens is daar nuus oor die Blitsbokke se segetog in Hongkong.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf president Donald Trump het sy uitlatings oor wit volksmoord in Suid-Afrika herhaal en nie eers die nuwe ambassadeur in die VSA, Roelf Meyer, sal volgens kenners hom laat afsien van die valse retoriek nie.

# Sowetan:

Berig oor die inhegtenisneming van die adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling. Die koerant skryf daar word verwag dat ander senior bestuurders soos die stadsbestuurder ook gearresteer sal word.

# En The Citizen:

Skryf al wat sigbaar is van die Clayville maatskaplikebehuisingsprojek in Tembisa is murasies en onkruid. Daar is reeds 122-miljoen-rand aan die projek bestee en ‘n verdere 238-miljoen-rand is nodig om dit te voltooi.

WES-KAAP:

Die Burger:

Berig eerstens oor ‘n nuwe klagte wat teen die EFF-leier Julius Malema ingedien gaan word na sy uitlatings oor die uitspraak teen hom. Die klag word na wat berig word deur ‘n prokureur by die Gelykheidshof in Johannesburg aanhangig gemaak en die EFF word ook daarby ingesluit.

En tweedens skryf die koerant oor die koue, nat naweek in die Wes-Kaap met berigte van sneeu oor die Matroosberge.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die inwoners van Makhanda het ‘n griefskrif aan president Cyril Ramaphosa gestuur waarin hulle kla dat hulle in ‘n varkhok woon.

En tweedens het die koerant met van die deelnemers aan die Ysterman-kompetisie die afgelope naweek gepraat.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Green Hills Mall in Empangeni se naam is verander na die Prince Buthelezi Mall ter ere van Mangosuthu Buthelezi. Die winkelsentrum open op 30 April.

En tweedens berig die koerant oor die nuwe Wysigingswetsontwerp op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onwettige Besetting van Grond wat nou onder bespreking is.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ‘n regsgeskil tussen kustoeroperateurs en die ministerie van Omgewing, Bosbou en Toerisme het geëskaleer nadat ‘n bevel van die Hoërhof bevestig het dat operateurs gedwing kan word om vir hul eie ondernemings mee te ding.

En tweedens skryf die koerant meer as twee-miljard-rand word nog benodig om die Onafhanklikheidstadion in Windhoek tot internasionale standaarde op te knap.