Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die likwidasie van Tongaat Hulett is vir eers uitgestel nadat die Nywerheidsontwikkelingskorporasie 200-miljoen-rand beskikbaar gestel het om die likwidasie-aansoek te keer.
# Mail & Guardian:
Skryf oor die vonnisoplegging gister van die EFF-leier, Julius Malema. Die koerant berig Malema is nog op vrye voet, maar dit mag dalk nie lank duur nie.
# Die Papier:
Lei ook met Malema. Die koerant berig die regstreekse vonnis van vyf jaar wat Malema ontvang het, is ‘n duidelike boodskap dat niemand bo die reg verhewe is nie. Voorts is daar ook nuus oor die uitwerking van die vonnis op die EFF se toekoms. Kenners meen die party is reeds op ‘n afwaartse trajek.
En tweedens skryf die koerant onberispelike bronne in die Trump-administrasie sê die aanstelling van Roelf Meyer as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika word reeds in ‘n positiewe lig gesien. Die bron sê die VSA wil die RNE versterk en nie swartmense vervreem nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die gebeure buite die hof na Malema se vonnisoplegging. Hy het onder meer gesê landdros Twanet Olivier is waarskynlik ‘n lid van AfriForum en groter magte het agter die skerms teen hom gewerk. Die blad skryf daar was geen geweldsvoorvalle onder Malema se ondersteuners buite die hof nie.
En tweedens skryf die webblad oor die 22-jarige swemmer, Aimee Canny, se prestasie by die Suid-Afrikaanse Swemkampioenskap waar sy vier titels ingeryg en vir die Statebondspele in Glasgow gekwalifiseer het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens Malema se seun, Ratanang het volgens die koerant na afloop van sy pa se vonnis gesê landdros Olivier is ‘n opperste rassis. Hy het ook uitgevaar teen Afrikaans en FW de Klerk.
En tweedens word berig die MK-party het die aanstelling van Roelf Meyer verwerp.
# Sowetan:
Lei met: “JU JU’S FREEDOM FIGHT”. Die koerant berig volgens kenners gaan Malema ‘n opdraande stryd voer om sy vyf jaar vonnis vry te spring. Daar is ook nuus oor die betogings na die uitspraak.
# En The Citizen:
Vra wat nou voorlê vir Malema. Die koerant skryf beide die leier van die EFF en sy party is op ‘n keerpunt en hy sal versigtige besluite moet neem.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Malema se vonnisoplegging. Die koerant berig oor Malema se planne sou hy wel onmiddellik tronkstraf moes uitdien. Alles was reeds in plek om ‘n dringende hofaansoek te bring.
En tweedens skryf die koerant koel, nat en winderige weer sal die naweek oor groot dele van die Wes-Kaap voorkom.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die advokaat wat van bedrog aangekla word, Mava Malla, is in Nxuba [Cradock] in hegtenis geneem nadat sy van die hof in Gqeberha verdwyn het.
En tweedens skryf die koerant die werknemers van Aspen wie se werk in gevaar is, sê hulle voel die farmaseutiese maatskappy gee nie vir hulle om nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die gewilde burgemeester van uMngeni, Chris Pappas, gaan homself nie weer beskikbaar stel vir die pos in later vanjaar se verkiesing nie. Hy wil na wat berig word die politiek verlaat. Pappas het ontken dat dit verband hou met enige konflik in die DA.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die oorname van Namibian Health Plan se administrasie deur Universal Healthcare van Suid-Afrika verloop nie glad nie. Dit vat lank vir lede om magtiging te verkry en sommige lede moes self vir dienste betaal.
En tweedens skryf die koerant ‘n bus vol staatspasiënte het op pad na Windhoek sonder brandstof gaan staan.