Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 April 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die tenderpreneur, Hangwani Maumela, wat by die plundery van die Tembisa-hospitaal betrek word, se luukse motors ter waarde van meer as 75-miljoen-rand asook agt eiendomme is in beslag geneem. Die koerant skryf ‘n eMalahleni-motorhandelaar wend hom nou tot die hof in ‘n poging om die supermotors te behou.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens volledig oor die EFF-leier, Julius Malema se eerste dag van vonnisverrigtinge vir die vuurwapenklag teen hom in KuGompo-stad [Oos-Londen]. Landdros Twanette Olivier sal vandag vonnis oplê.

Dan skryf die webblad die SAKP sê samewerking met en lidmaatskap van die ANC is baie belangrik, maar hy sal steeds later vanjaar onafhanklik aan die verkiesing deelneem.

En laastens word berig president Donald Trump het ‘n nuwe KI-beeld op sosialemedia geplaas. In die beeld word hy deur Jesus omhels.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Arbeidsappèlhof het beslis dat om iemand ‘n “wit rassis” te noem nie outomaties rassisme daarstel nie. Die hof het Vuyani Qomoyi in sy pos by Namaqua Wines herstel nadat hy vroeër beweerde rassistiese gedrag vertoon het.

En tweedens berig die koerant oor al die gebeure in en om die hof met Malema se verskyning gister en oor wat vandag te wagte kan wees.

# En Sowetan:

Berig die sakeman Nikluis Manuel het na bewering 662 spookwerkers in sy maatskappy gebruik om 148-miljoen-rand uit die Covid-hulpfonds te steel.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die uiteenlopende reaksie op die aanstelling van Roelf Meyer as Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA. Die koerant skryf president Cyril Ramaphosa het gesê Meyer het homself op verskeie gebiede onderskei en hy het volle vertroue dat hy bande met die VSA sal herstel.

En tweedens skryf die koerant oor inligtingsborde van die metro wat die aandag van die motoriste in die Kaap trek.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig bewerings van botsende belange het die onderhoude met voornemende regters vir eers gestaak.

En skryf die tafel is gedek vir Malema se groot dag.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, moet steeds moeilike vrae voor die Madlanga-kommissie antwoord.

En berig oor vakbonde se stryd teen die verhoging van bydraes vir die staat se mediese fonds, GEMS.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Internasionale Sekondêre Sertifikaat van die Onafhanklike Eksamenraad word deur Suid-Afrikaanse universiteite en internasionale liggame erken.

En tweedens skryf die koerant die toerismebedryf is ongelukkig ná die ministerie van die Omgewing, Bosbou en Toerisme se aankondiging van nuwe regulasies rakende toegang tot Sossusvlei en Dooievlei, wat op 1 Mei in werking sal tree.