Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Is die eerste van talle koerante wat vanoggend berig oor die aanstelling van oudminister Roelf Meyer as Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA. Die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya het die stap deur president Cyril Ramaphosa bevestig.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor Meyer se aanstelling. Die koerant skryf die keuse het op Meyer geval omdat hy ’n ervare onderhandelaar is wat daarin kan slaag om die VSA se betrekkinge met Suid-Afrika te herstel.
Tweedens skryf die webblad Elon Musk se pa, Errol werk volgens berigte aan ‘n plan om vlugtelingstatus vir Suid-Afrikaanse boere in Rusland te verkry. Die projek sal soortgelyk aan die Amerikaanse vlugtelingprogram wees.
En laastens is daar nuus oor die inwoners van die Overberg wat bekommerd is oor die grootskaalse jag met honde van die wildlewe op bosbougrond.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens ook oor Roelf Meyer se aanstelling.
En tweedens berig die koerant die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die eThekwini-metro 30 dae gegee om regstellende maatreëls in te stel, nadat hy die befondsing vir die Uitgebreide Openbarewerkeprogram teruggehou het.
# Sowetan:
Berig ook oor Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in Amerika.
En tweedens skryf die koerant ‘n maatskappy in Sunninghill het na bewering 19,1-miljoen-rand bedrieglik geëis van die Tydelike Werkgewer/Werknemerverligtingskema.
# En The Citizen:
Skryf oor drie werknemers van City Power wat glo ‘n sindikaat gevorm het om mense wat tenders ontvang het, af te dreig en hul families se lewens in gevaar te stel. Twee van die werknemers is reeds vroeër by misdadige optrede betrek.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n vrou is helder oordag op pad na die lughawe op die N2 aangeval. Die koerant skryf sy is met ‘n vuurwapen teen die kop geslaan.
En tweedens skryf die koerant ook oor Meyer se aanstelling.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig nog werksgeleenthede by die farmaseutiese maatskappy, Aspen in die Oos-Kaap, is in die weegskaal.
En tweedens skryf die koerant, perlemoenstropers gebruik nou militêre taktiek om hul misdaad uit te voer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Msunduzi-munisipaliteit is in ‘n hofstryd gewikkel met die MK-party-geaffiliëerde Labour and Civic Organisation bekend as Laco.
En tweedens word berig Keith Chetty, wat daarvan beskuldig word dat hy sy swanger eksvrou, Aleyka Shaik, vermoor het, het steeds nie borgtog ontvang nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming sê die druk op kommersiële visvoorrade word nie net deur die land se groeiende rob-bevolking aangedryf nie.
En tweedens skryf die koerant die Kunenerivier is in vloed en oorstroom sy walle met vakansieoorde en kampeerplakke stroomaf wat reeds onder water is.