Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 April 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die aandele van Sasol en Thungela het gestyg nadat dit aan die lig gekom het die VSA-Iran-gesprekke het ineengestort. Die koerant skryf dit het die energiemarkte ‘n hupstoot gegee. Die prys van Brent-ruolie het terselfdertyd gestyg.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die nuwe DA-leier Geordin Hill-Lewis sê hy sal steeds aanbly as burgemeester van Kaapstad en die twee rolle met gemak kan hanteer.

Dan skryf die webblad die Nasionale Vervolgingsgesag het ná tien jaar besluit om diegene wat by die Life Esidimeni-tragedie betrek word, strafregtelik te vervolg. Altesaam 149 pasiënte is oorlede.

En laastens het die blad nuus oor president Donald Trump wat weier om pous Leo verskoning te vra vir sy opmerkings oor ‘n swak pous.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die MK-party eis die onmiddellike herinstelling van strafregtelike aanklagte teen die voormalige senior polisiebeampte Johan Booysen en lede van die omstrede Cato Manor-eenheid. Die party het die Nasionale Vervolgingsgesag gewaarsku om binne sewe dae op te tree of regs- en parlementêre gevolge in die gesig te staar.

# Sowetan:

Berig die dossiere wat na bewering by sersant Fannie Nkosi van die Georganiseerde Misdaadeenheid gesteel is, sluit in transitorooftogsake, vuurwapenmisdade en rooftogte op tabakfirma’s se vragmotors. Die koerant skryf hy het die gewoonte gehad om vertroulike inligting uit te lek om die gereg te dwarsboom.

# En The Citizen:

Skryf vals verkragtingsklagtes teen onskuldige mans is besig om toe te neem. Dit word gebruik om die slagoffers mee af te pers om te betaal sodat die klagtes laat vaar word.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig daar bestaan kommer omdat die bendemoorde in die Wes-Kaap voortduur selfs nadat die weermag in die gebied ontplooi is. Die koerant skryf daar is na bewering slegs 217 soldate ontplooi.

En tweedens skryf die koerant Bernard Fick is tot raadsvoorsitter van die Universiteit Stellenbosch verkies. Hy is ‘n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur by Alexander Forbes.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die struweling tussen die dierebeskermingsvereniging en die Gqeberha-munisipaliteit duur steeds voort.

Dan skryf die koerant oor ‘n klein indringerkewer wat die bome in Gqeberha bedreig.

En laastens is daar nuus oor Nelson Mandelabaai wat sy vere regskud vir die Ystermankompetisie.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die stamleiers in KwaZulu-Natal, bekend as die Amakhosi, gaan nuwe voertuie ontvang.

En berig tweedens sersant Fannie Nkosi wat teregstaan op aanklagte van diefstal, regsverydeling en die besit van wapens en ammunisie, het skuld ontken.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Namibië se verouderde radar- en lugverkeerbestuurstelsels moet vervang word nadat hulle die einde van hul lewensduur bereik het. Die stelsels is reeds in 2015 in gebruik geneem.

En tweedens skryf die koerant die suidelike damme in Namibië loop oor. Die Nautedam buite Keetmanshoop se sluise is die naweek oopgetrek nadat dit 107-persent vol was.