Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 April 2026:

# Business Day:

Berig die nuwe DA-leier, Geordin Hill-Lewis, is van plan om in 2029 die leiding in die Nasionale Regering oor te neem.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens ook uitvoerig oor Hill-Lewis se verkiesing asook dié van die ander ampsdraers van die DA. Die koerant fokus op Hill-Lewis se vierpunt-plan om teen 2029 die leidende party op die Suid-Afrikaanse politieke spektrum te wees.

Tweedens skryf die webblad ‘n bondgenoot van pesident Donald Trump en president Vladimir Putin, die nasionalistiese premier van Hongarye, Viktor Orban, is uit die kussings gelig in ‘n reuse-verkiesingsnederlaag. Hy kon tot dusver slegs 56 van die 199 setels verower.

En laastens is daar nuus oor een van die eienaars van die privaat Klaserie-natuurreservaat, die 65-jarige Gary Freeman wat dood is toe ‘n olifant hom aangeval het.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf eerstens ook breedvoerig oor Hill-Lewis se verkiesing en die DA se planne vorentoe.

Dan berig die koerant die Gautengse Departement van Gesondheid sê dat hy planne in plek stel om ‘n chirurgiese agterstand van ongeveer 30-duisend-600 pasiënte wat op operasies wag in die provinsie se openbare hospitale, te verminder. Die departement sê hy stel digitale innovasie, uitgebreide chirurgiese vermoë en geteikende hervormings in werking om doeltreffendheid en pasiëntgesentreerde sorg in hospitale te verbeter.

# Sowetan:

Berig die taakspan wat polisiemoorde ondersoek, stel ondersoek in na die moord op ‘n finansiële klerk van Emfuleni, Martha Rantsofu, wat skynbaar in ‘n sluipmoord doodgeskiet is. Haar familie sê die moord is gepleeg kort nadat die taakspan ‘n ondersoek waarmee sy besig was by haar oorgeneem het.

# En The Citizen:

Skryf die bedanking van die bestuurshoof en drie raadslede van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het vrese laat onstaan dat kaderontplooiing die sensitiewe herstel van die lugdiens in duie kan laat stort.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met dieselfde verslaggewing oor die verkiesing van die nuwe DA-leier as Netwerk24.

En tweedens skryf die koerant die digter en akademikus, professor Jaco Barnard-Naude, het onttrek aan die die kortlys vir die Eugene Marais-prys. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sê hy weet nie wat die rede vir die onttrekking is nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Hooggeregshof het die werkers by die Dora Nginza-hopsitaal verbied om te staak te midde van chaos by die gesondheidsinstelling.

En tweedens skryf die koerant ‘n plaaslike stamkaptein het ‘n beroep gedoen vir ‘n gedenksteen vir vloedslagoffers by die massagraf in Richmond Hill.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar bestaan ernstige kommer oor die toename in skietvoorvalle en sluipmoorde in KwaZulu-Natal.

En tweedens berig die koerant ook oor die DA-kongres.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die diefstal in Februarie 2020 by president Cyril Ramaphosa se plaas Phala Phala het die Namibiese polisie by ’n oorgrens-ondersoek betrek.

En tweedens skryf die koerant met die bekendstelling van ‘n gevorderde chirurgiese stelsel gee ortopediese sorg by die Lady Pohamba-privaat hospitaal ’n groot sprong vorentoe.