Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 September 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa sê daar word nie genoeg gedoen om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp nie. Hy het die ministers van Polisie, en van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, die Nasionale Vervolgingsgesag en die polisiebestuur opdrag gegee om binne 60 dae ‘n oudit uit te voer van onopgeloste sake van moord, verkragting en seksuele misdrywe.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig Ramaphosa sê die regering se aksieplan teen geslagsgeweld en vrouemoord is daarop gerig om dit te keer voordat dit gebeur. Hy sê egter meer wetgewing, programme en polisiebeamptes sal nie die probleem oplos nie. Die oplossing lê daar waar ‘n man die eerste keer sy hand vir ‘n vrou lig en die familie besluit om stil te bly.

En tweedens skryf die webblad die parlementêre leier van die DA, George Michalakis, het 10 munisipale bestuurders by die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, aangegee vir wanadministrasie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf ook oor die president se aankondiging om die regering se reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord te versterk. Dit sluit in ‘n nasionale hersiening van onopgeloste sake en verpligte veiligheidsoudits in munisipaliteite.

# Sowetan:

Berig luitenant-generaal Shadrack Sibiya wat van onder meer verkragting van ‘n 18-jarige aangekla word, se verweer tydens sy borgtogaansoek dat dit met met wedersydse instemming plaasgevind het, word deur aksiegroepe verwerp. Die koerant skryf ook oor Ramaphosa se plan teen geslagsgeweld en vrouemoord.

# En The Citizen:

Skryf oor die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat 3,1-miljoen-rand verdien om tuis te bly, terwyl waarnemende minister Firoz Cachalia ook soveel verdien om sy werk te doen.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die diplomatieke stryd met die VSA gaan oor Suid-Afrika se kritieke minerale. Sy sê indien enigiemand die land wil verlaat, kan hulle dit in vrede doen sonder om Suid-Afrika te destabiliseer. Sy sê mense kan in vrede terugkeer ook.

En tweedens skryf die koerant die familie van die bekende volstruisboer van Oudtshoorn, die 85-jarige Saag Jonker, het hul dank en waardering teenoor die reddingspanne en gemeenskap uitgespreek nadat sy liggaam en bakkie in die Olifantsrivier gevind is.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die president se aksieplan berus op spesifieke spertye vir afhandeling.

En skryf tweedens ‘n 32-jarige polisiekonstabel van Gqeberha word aangekla van die verkragting van ‘n 15-jarige meisie. Die konstabel bly in aanhouding terwyl die ondersoek voortduur.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook oor die president se aankondiging.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die goewerneur van Otjozondjupa, John Julius Khamuseb, het ’n beroep op die regering gedoen om ’n beherende belang van 51-persent in die land se olie- en gasbedryf te behou.

En tweedens skryf die koerant die bystand aan boere wat deur die uitbreking van bek-en-klouseer geraak is, die nakoming van inperkingsmaatreëls en die oprigting van ontsmettingstasies by padblokkades is as kernprioriteite in die Kharasstreek geïdentifiseer.