Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 September 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, sê oudpresident Thabo Mbeki is die mees geskikte persoon om die diplomatieke dooiepunt tussen die VSA en Suid-Afrika te breek. Hy sê die voormalige president verstaan ​​die meganismes van wêrelddiplomasie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die taakspan van die Madlanga-kommissie het ‘n 59-jarige luitenant-generaal in die polisie in hegtenis geneem vir beweerde seksmisdade wat insluit die verkragting van ‘n 18-jarige vrou in ‘n hotel in Sandton. Die offisier is reeds verlede jaar geskors en sy naam sal bekend word sodra hy in die hof verskyn het.

En tweedens skryf die webblad oor die moord op die 73-jarige Mariette Mouton van Bredasdorp. Haar 81-jarige man was buite besig om gras te sny toe sy oorval is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf eerstens ook oor die luitenant-generaal van die polisie wat vasgetrek is in verband met beweerde seksmisdade.

En tweedens berig die koerant AfriForum gaan voort met die strafregtelike vervolging van die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, oor uitlatings wat ‘n voormalige skoolhoof van die Oos-Kaap, Jaco Pieterse, valslik as ‘n kinderverkragter uitgewys het. Die voorval hou verband met die beweerde verkragting van ‘n sewejarige by die Bergview College in Matatiele in Oktober 2024.

# Sowetan:

Berig ook oor Bozell, se beroep op president Cyril Ramaphosa om Mbeki af te vaardig om die probleme tussen Suid-Afrika en die VSA op te los.

# En The Citizen:

Skryf ook oor AfriForum se saak teen Mbalula. Die koerant skryf die EFF-leier Julius Malema word ook by die saak betrek.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ‘n likwidateur van Centurion wat ondersoek ingestel het na die Mirror Trading International-beleggingskema, die 41-jarige Christopher Roos, is saam met sy ma en seun dood aangetref in sy kantoor in Centurion. Al drie het aan skietwonde omgekom in die kantoor van Sebenza Trust, wat deur die Hooggeregshof aangestel is as likwidateur van MTI.

En tweedens skryf die koerant die meeste damvlakke in die Wes-Kaap het gestyg.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die 57-jarige Natasha van Eck wat tereg staan vir die moord op haar 60-jarige man Deon op hul plaas Bakenkop buite Kariega in 2022, het in die hof getuig dat sy in selfverdediging opgetree het.

En tweedens skryf die koerant die vonnisoplegging van die Karoo-boer, Louis Lategan wat skuldig bevind is aan mensehandel en verkragtig, is uitgestel. Lategan het advokaat Annelene van den Heever aangestel om hom voortaan te verteenwoordig.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die LUR vir Onderwys in KwaZulu-Natal, Sipho Hlomuka, het twee gewelddadige aanvalle by skole in die provinsie veroordeel. Dit sluit in ‘n noodlottige rooftog by die Inanda Comprehensive High School en die skiet van drie matriekleerders by die Bukimvelo High School.

En tweedens berig die koerant oor ondersoek wat ingestel word na die vergiftiging van die wildlewe.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die ministerie van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn het 330 vakante poste uit ‘n moontlike 807 vir maatskaplike werkers, terwyl die ministerie met ’n vermindering van 43,537-miljoen-rand in sy bedryfsbegroting te kampe het.

En tweedens skryf die koerant kontrakteurs wat aan Namibië se spoorwegopgradering ter waarde van miljarde rand werk, moet minstens tien-persent van hul kontrakwaarde aan maatskappye of verskaffers toeken wat in Namibië geregistreer is.