Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 November 2023:

Maroela Media:

Skryf eerstens Eskom het fases een, twee en drie-beurtkrag vir die res van die week ingestel weens ‘n gebrek aan opwekkingsvermoë,

dan word berig oor die kritiek teen die ANC nadat die party ‘n foto van die adjunkhoofregter, Mandisa Maya op ‘n verkiesingsplakkaat gebruik het,

en laastens skryf die blad AfriForum het nou ‘n platform geskep waar Suid-Afrikaners wat valslik van rassisme beskudig word hulp kan ontvang.

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Sasol het ‘n geleentheid verspeel tydens sy jaarvergadering. Belangrike aandeelhouers was gereed om druk uit te oefen oor die verwesenliking van klimaatsteikens.

GAUTENG:

# Beeld:

Berig eerstens ‘n onderwyser van die Hoërskool Birchleigh in Kemptonpark, Heinrich Hamm het met sy lewe geboet toe hy saam met sy swaer, Charles Botha en 18-jarige susterskind, Carlo Botha deur rowers oorval is. Die drie het gaan fietsry en Hamm het die rowers se aandag afgetrek sodat Carlo kon wegkom. Die rowers het hom op die toneel doodgeskiet.

En tweedens skryf die koerant diegene wat die afgelope naweek vir volgende jaar se verkiesing geregistreer het sê daar is hoop dat Suid-Afrika gered kan word.

# Sowetan:

Berig oor die moordsaak van Bonolo Modiseemang wat na bewering deur haar tannie, Agnes Segomotsi Setshwantsho vermoor is om lewensversekering te eis. Die koerant skryf die papier waarin ‘n beweerde vergiftigde toebroodjie toegedraai was kan die deurslag gee in die saak.

# En The Citizen:

Lei met: “WHY YOU NEED TO VOTE”. Die koerant skryf ook oor die naweek se kieserregistrasie en berig die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke moedig ook mense aan om te stem vir ‘n beter Suid-Afrika.

VRYSTAAT:

# Volksblad in Bloemfontein:

Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die heldedaad van Heinrich Hamm.

En tweedens skryf die koerant die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê die afgelope naweek se registrasieproses in die Vrystaat en Noord-Kaap het beter verloop as in 2021.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met die aanval op die wêrelbekende Britse atleet, Tom Evans in die noordelike deel van die Tafelberg Nasionale Park. Evans wat in die land was om aan ‘n 100-myl wedloop deel te neem is deur twee mans aangeval en is onmiddellik na die voorval terug huis toe. Hy het die mense van Kaapstad op sosiale media gevra om hulself op te pas.

En tweedens skryf die koerant nege werknemers van die Parlement is geskors en sal aan tugstappe onderwerp word ná die brand in die Nasionale Vergadering.

# En Cape Times:

Skryf president Cyril Ramaphosa het standpunt ingeneem oor die betrokkenheid van regters by partypolitiek en die onafhanklikheid van die regsbank.

En berig die Stad Kaapstad het nou ‘n brandpunt vir motorkapings geword.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die inwoners van Gqeberha is omgekrap oor gewapende lyfwagte wat toonaangewende inwoners oral in openbare plekke beskerm.

En skryf tweedens die inwoners van Richmond Hill is besig om ‘n besige deurgang reg te ruk nadat dit vir jare onder misdadigers, dwelmhandelaars en onwettige sakeondernemings deurgeloop het.

KWAZULU-NATAL:

# Daily News in Durban:

Skryf die ANC-raadslid, Mzimuni Ngiba wat in hegtenis geneem is vir die moord op die kandidaat-raadslid, Siyabonga Mkhize in 2021 trek glo steeds toutjies uit die tronk.

En tweedens word berig die OVK is gelukkig met die verloop van die kieserregistrasieproses in KwaZulu-Natal.

# En The Witness in Pietermaritzburg:

Het nuus oor ernstige watertekorte wat KwaZulu-Natal oor die Kerstyd in die gesig staar.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Meatco-produsente het, ná ’n vergadering met die onderneming se bestuur en direkteure, ’n dokument met eise ingedien waarin Meatco onderneem dat alle eise betyds uitbetaal sal word.

En tweedens skryf die koerant die kantoor van die Ouditeur-Generaal het bevind dat geld van die Nasionale Noodfonds vir Rampverligting wederegtelik gebruik is vir die opknapping van die ou Staatshuis.