Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Orion Minerals het goedkeuring van die Rewerwebank ontvang vir ‘n ooreenkoms met Glencore om befondsing van 4,06-miljard-rand beskikbaar te stel vir die koper-sink-projek in Prieska in die Noord-Kaap. Dit sal die projek na die kontrakteringsfase laat beweeg.
# Mail & Guardian:
Skryf daar is reeds nege liggame aan die Oos-Rand gevind. Die koerant berig terwyl vrees en angs die land aangryp, dra hy vandag se uitgawe op aan elke vrou wat oor die afgelope jare in Suid-Afrika vermoor is, en vra dat die plaag van geslagsgeweld en vrouemoord beëindig word.
# Die Papier:
Berig eerstens breedvoerig oor die moorde op die vroue aan die Oos-Rand. Die koerant skryf oor die polisieondersoek en die bespiegeling dat dit die werk van ‘n reeksmoordenaar kan wees. Kenners soos doktor Mickey Pistorius en doktor Gérard Labuschagne gee ook hulle menings oor die profiel van die moordenaar. Die beriggewing word met grafika toegelig.
Dan word berig oor Fikile Mbalula se kanse om ANC-president te word wat skade gelei het met die kandidaatlys-fiasko. Die kandidaat met die meeste steun is steeds die miljardêr, Patrice Motsepe.
En laastens is daar nuus oor Chris Marnewick se boek wat die gesprek oor Oscar Pistorius weer laat opvlam het.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig met die ontdekking van ‘n negende vroueliggaam aan die Oos-Rand sê die polisie hulle kan nie die moontlikheid uitsluit dat ‘n nabootser-moordenaar betrokke is by die moorde nie.
En tweedens skryf die koerant die 38-jarige Jessica Ann Will van Suid-Afrika is in Nigerië tot 40 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die smokkel van ses kilogram heroïen.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die familie van die 28-jarige Gracious Nkomo het haar uitgeken as die derde vrou wie se liggaam verlede week langs die R-21 in Kemptonpark gevind is. Volgens polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, het haar familie haar by die Germiston-lykshuis uitgeken.
# Sowetan:
Berig die huise wat op meer as ‘n duisend onwettige woonerwe in Boksburg gebou is, maak nou deel uit van ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid. Dit blyk dat die huise op gesteelde munisipale grond gebou is.
# En The Citizen:
Skryf die Panorama-roete in Mpumalanga wat Blyderivierpoort insluit, word bedreig deur swak bestuur. Die infrastruktuur verkrummel en daar is kommer oor die uitvloei van riool.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die negende liggaam wat aan die Oos-Rand gevind is. Die koerant skryf die gemeenskap het ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om self in te gryp.
En tweedens skryf die koerant die tyd loop uit vir die groen identeitsdokumente en mense sal moet begin aansoek doen vir kaarte.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ouers en onderwysers by die Hebert Hurd Primary School in Gqeberha het slaags geraak oor die bewerings van seksuele teistering onder sommige leerders. Die ouers wil hê dat die leerders wat betrek word, geskors moet word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die belangstelling in volgende jaar se Comrades-marathon is buitengewoon groot en die inskrywings stroom in.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die man wat in hegtenis geneem is vir die moord op die 11-jarige Gephardt Doësep van Rehoboth, Dickson Karomuine, is die seun se ma se kêrel. Hy het die seun na bewering met ‘n mes gesteek en met ‘n klip teen die kop gekap.
En tweedens skryf die koerant die meer as 220-duisend Namibiërs wat met MIV leef, sal steeds antiretrovirale behandeling ontvang, al is Amerikaanse befondsing onttrek.