Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ‘n rekordgetal van 241 partye gaan aan die Gautengse metroverkiesing deelneem. Die koerant skryf meningspeilings kan nie ‘n daadwerklike meerderheid voorspel nie en die noodgedwonge vorming van koalisies na die verkiesing is ‘n uitgemaakte saak.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Verkiesingskommissie het vyf-duisend-en-96 kandidate gediskwalifiseer wat nie aan statutêre vereistes voldoen nie. Daar is egter steeds meer as 98-duisend kandidate vir wyksetels en meer as 38-duisend vir proporsionele setels.
En tweedens skryf die webblad die ANC het sy lede gevra om kalm te bly nadat hy sy saak in die Kieshof, om sy kandidate na die spertyd te registreer, verloor het. Die ANC sê die regsproses oor die kwessie gaan steeds voort.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf nog ‘n slagoffer is geïdentifiseer ná die ontdekking van ‘n vrou se liggaam langs die pad in KwaThema, Springs. Sy is die 38-jarige Dineo Evelyn Motapane. Motapane is Sondag vir die laaste keer lewend gesien. Die koerant berig die polisie het intussen hulle ondersoek na die agt moorde verskerp.
# En Sowetan:
Berig oor die verval en agteruitgang by die Protea-polisiestasie in Soweto. Dit was eens ‘n toonbeeld van moderne polisiëring, maar is nou in ‘n haglike toestand en beamptes moet van omliggende polisiestasies gebruik maak om verdagtes aan te hou.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die VSA se strafmaatreëls teen Suid-Afrikaanse amptenare met die instel van visumbeperkings. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het die optrede as eensydig bestempel. Die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, sê dis maar net die begin.
En tweedens skryf die koerant die Nasionale Verbruikerskommissie is besig om ‘n sogenaamde opt-out-registrasie te ontwikkel waarmee lastige bemarkingsoproepe en -boodskappe geweier kan word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die 42-jarige Louis Lategan, ’n boer van Xamdeboo [Aberdeen] in die Oos-Kaap, is in die Hooggeregshof in Makhanda skuldig bevind aan mensehandel en verkragting nadat ses jong vroue, wat aangestel is om na sy kinders om te sien, die saak aanhangig gemaak het.
En tweedens skryf die koerant die Bayworld-oseanarium in Gqeberha is op gereedheidsgrondslag nadat drie dolfyne op die stad se strande uitgespoel het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens oor die naasbestaandes van die agt vroue wat in Ekurhuleni vermoor is. Die koerant het met hulle gepraat.
En tweedens berig die koerant ook oor die ANC se nederlaag in die Kieshof.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar bestaan geen openbare rekord van watter kindersorggeriewe wettig geregistreer is om ‘n veilige hawe vir kwesbare kinders te bied nie.
En tweedens skryf die koerant die Walvisbaai Internasionale Lughawe is afgradeer na klas-G. Dit volg ná kommer oor vertragings en onakkurate Terminale Lughawevoorspellings wat kritieke weerinligting aan vlieëniers verskaf.